GEORGE NUUS - Inwoners van New Dawn Park het hul misnoeë uitgespreek oor die eindelose ophoping van vullis reg langs hulle huis. Kinders speel op die hope tussen dooie honde en stukkende glasbottels en voetgangers moet versigtig tussendeur die rommel loop.
Henrietta Ceaser bly al twee jaar in Voëlnesvaringstraat in New Dawn Park reg langs die vullishoop saam met haar drie kinders van agt maande, ses en tien jaar.
"Elke dag sien ons kinders wat op die vullishoop speel en ons is bang hulle word siek. Gereeld word dooie honde op die hoop gegooi en dan stink dit vir minstens 'n week," sê sy.
Volgens haar gebeur die rommelstrooiery meestal in die nag, maar soms ook deur die dag. Hulle het reeds die klagtes by die munisipaliteit aangemeld wat vir hulle sê om videos en foto's van die strooiers te neem. "Die mense raak aggressief as ons foto's of videos wil neem," sê Ceaser.
Theresa Jeyi, wyk 16 se raadslid, sê onwettige stortingsterreine is 'n eindelose kopseer vir die George-munisipaliteit. "Die vragmotors wat skoonmaak is skaars weg dan word daar weer nuwe rommel gestrooi," sê sy.
Volgens Jeyi is die munisi-paliteit besig om 'n nuwe inisiatief in werking te stel in hul stryd teen onwettige rommelstrooiery. Kontrakteurs met 'n bakkie, wat in die wyk self bly, gaan aangestel word om vullis te verwyder met die hulp van arbeiders.
"In wyk 16 alleen is daar minstens nege onwettige stortingsterreine met nuwes wat die heeltyd vorm. Hopelik sal die bakkie die kontrakteurs help want dit word net erger en erger," sê Jeyi.
Drankbottels op die vullishoop in New Dawn Park waar kinders amper elke dag speel. Foto: Jacques du Toit
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’