GEORGE NUUS - Die gewilde parkrun wat elke Saterdag by die Tuinroete Botaniese Tuin plaasvind, is op soek na vrywilligers. Hulle kan diens doen as beamptes en ook na die tyd help met opruiming, het Emile Evert, een van die vrywilligers, aan die George Herald gesê.
Ninke Stanley, koördineerder van die parkrun, het gesê die geleentheid is uit en uit afhanklik van vrywilligers. "Sonder vrywilligers kan die parkrun nie plaasvind nie."
Volgens haar is daar 'n baie goeie gees tussen die mense wat opdaag. Gewoonlik spring deelnemers om 08:00 weg.
Die parkrun het afgelope Saterdag weer plaasgevind. Die vorige Saterdag het dit nie plaasgevind nie as gevolg van skade op die roete na die brande. Volgens Stanley het sowat 470 deelnemers Saterdag opgedaag. Dit is minder as die sowat 960 wat in Desember deelgeneem het. Dit was 'n rekordgetal.
Gewoonlik daag baie deelnemers in Desember op. Teen die agtergrond van die komende Desember-vakansie sal die organiseerders baie graag nog vrywilligers wil betrek.
Stanley het benadruk, die roete is oop en veilig. Vrywilligers het onlangs 'n groot rol gespeel om die roete gangbaar te maak na die brande. Vrywilligers kan steeds in die verband ook help op die roete.
Die parkrun sal voortgaan in die vakansietyd en daar is selfs op Kersfees en Nuwejaarsdag geleenthede.
Mense wat belangstel om as vrywilligers op te tree kan Stanley bel by 071 468 2966 of 'n e-pos stuur aan georgeoffice@parkrun.com.
Skade na die onlangse brande is sigbaar op die parkrun-roete.
Intussen lyk dit of stappers wat gebruik wil maak van die Outeniqua-staproete buite George, geduldig sal moet wees. Dit is steeds gesluit na die onlangse brande.
Nandi Mgwadlamba, woordvoerder van SANParke, het gesê dit sal waarskynlik eers aanstaande jaar heropen. "Ons hoop dit kan vroeg in die jaar open."
The Diepwalle-roete is steeds gesluit as gevolg van rook. Die Otter-wandelpad is egter grotendeels oop. Die oornaggeriewe op dag 2 is beskadig en stappers kan nie daar oorbly nie.
Sowat 37 800 ha bos en veld is deur die brande in die Tuinroete Nasionale Park beskadig.
SP Dreyer, 'n vrywilliger help met op opruiming op die parkrun-roete na die brande
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'