GEORGE NUUS - Die dokumentêre film oor die lewe van die apartheidsaktivis, Ashley Kriel, word Saterdagmiddag om 13:00 in die George-stadsaal aan die publiek vertoon.
Die film getitel, Action Kommandant deur Nadine Cloete, is reeds in 2016 vrygestel. Dit is tans te sien op ShowMax.
Die publiek het egter met hierdie vertoning ‘n geleentheid om dié veelbesproke dokumentêr oor hierdie vryheidsaktivis gratis te sien.
Kriel was ‘n lid van die politieke beweging, uMkhonto weSizwe, en het ‘n groot invloed op die jeug gehad. Hy was ‘n boorling van Bonteheuwel in Kaapstad en is op 9 Julie 1987, op die ouderdom van 20 jaar doodgeskiet terwyl hy by ‘n veiligheidshuis in Athlone tuisgegaan het.
“Behalwe vir die vertoning van die film sal daar ook ‘n paneelbespreking wees,” het die organiseerder en programaanbieder, Hein Scheepers, gesê.
George-speaker, Sean Snyman, Ego Nege (kletsrymkunstenaar en filmregisseur), Claudia ‘Yoma’ Britz (hip hop-kunstenaar) en Carlo Randal sal onder meer aan die bespreking deelneem.
“Vanjaar merk die 35ste herdenking van Ashley Kriel se dood,” het Scheepers gesê. “Die idee is om die publiek en breër gemeenskappe aan sy heldedade te herinner. Hy was ‘n held vir almal.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'