GEORGE NUUS - Die tema van Outeniqua Dames Aktueel se laaste vergadering was 'Moenie gras onder jou voete laat groei nie'.
George se swemsensasie, Minke Janse van Rensburg se ma, Aletta, het die dames geboei met hulle ongelooflike dramatiese lewensverhaal.
Vandag is Minke die Wes-Kaapse sportvrou vir 2019 vir gestremdes. Agter haar naam pryk 17 Afrika-rekords en vyf wêreldrekords. Sy is van kleins af gefassineer deur water en leef vandag haar droom saam met haar ouers en hulle is 'n gelukkige, liefdevolle gesin.
Jannie Malherbe, amper 80 jaar jonk, en nog steeds 'n uiters fiks roeier, het die dames geïnspireer met sy lewensfilosofie. Hy neem al vanaf 1962 aan die Bergrivier-kanomarathon deel en skryf talle oorwinnings in Suid-Afrika en oorsee agter sy naam.
Volgens Jannie moet 'n mens soggens opstaan en sê: "Hei, ek's 'n bakgat ou en die son skyn lekker!"
Jannie Malherbe gesels oor sy passie vir roei.
Dit was vir Dames Aktueel 'n voorreg om aan Minke 'n tjek van R10 000 en aan Ollie Terblanche, wat ook na die vergadering uitgenooi is, 'n tjek van R15 000 te oorhandig.
Ollie is die bekende Arende-rugbyspeler wat verlam gelaat is na 'n besering op die rugbyveld. Hy het onlangs 'n koffiereeks, Rise Coffee, bekendgestel.
Vir meer inligting oor Dames Aktueel, kontak Magdaleen Smook by 044 873 6568 / 074 977 1986 of Louie Meyer by 044 874 6523 / 084 525 2130.
Minke Janse van Rensburg se pa, Hennie, aan die woord terwyl sy oor sy skouer loer. In die agtergrond is haar ma, Aletta.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'