GEORGE NUUS - Marita Henning-Van Dijk van Bergplaas het Saterdag diep in haar onderbewuste gedelf om dit wat sy as jong kind van mes steek by haar Sotho-vriende geleer het, in te span teen 'n groot bobbejaanmannetjie.
Sy het die bobbejaan in haar groentetuin opgemerk terwyl sy skottelgoed gewas het en besluit om stilletjies om die huis te beweeg om hom te verjaag, soos sy gewoonlik doen met die harige besoekers wat haar groentetuin en vrugtebome gereeld stroop.
"Ek dog nog ek gaan hom verras, maar toe ek om die hoek van die huis kom, was hy skoonveld."
Sy is deur die oop kombuisdeur terug huis in met haar klein basterbrak vooruit.
Toe dié vreeslik aan die blaf gaan in die sitkamer, is Henning-Van Dijk die gang af, met 'n mes in die hand. "Hoewel hier nie misdaad in ons omgewing is nie, het die gedagte aan 'n inbreker my tog skrikkerig gehad."
Sy en die einste bobbejaan van flussies - lewensgroot in haar sitkamer - skrik toe ewe groot toe hulle mekaar in die oë kyk. "Ongelukkig staan ek op daardie stadium op die enigste plek waar hy kan uit, en hy kom met mening vir my, maar toe hy kom, toe steek ek."
Die bobbejaan het haar 'n paar keer teen die bors gegryp, rondgepluk en weer gelos. "Gelukkig het Bruto se geblaf keer op keer die bobbejaan se aandag afgetrek. Hy was so dapper, al is hy 14 jaar oud en blind in die een oog."
In die onderonsie het Henning-Van Dijk die bobbejaan een keer in die nek en toe weer in die bors gesteek.
"Hy het bang geraak en 'n ruit gebreek, maar kon nie daardeur nie. Ek het die gaping gebruik om na die een hoek van die sitkamer te beweeg en 'n pad vir hom na die kombuisdeur oop te maak."
Toe alles verby was, het haar knieë van skok onder haar geknak. "Ek het soos 'n riet gebewe en die trane het geloop. Ek weet nie hoe ek dit reggekry het nie. Daar was nie tyd om te dink nie. Dit was seker net instink en ek dink dit wat ek as kind in die Vrystaat by die Sotho-mense geleer het van mes steek en knopkierie baklei, moes ingeskop het. Ek kan 'n knopkierie nogal gooi hoor."
Hulle het 'n geweldige probleem met bobbejane wat voortdurend hul tuin stroop, sê sy. "Ek was ontsteld toe ek verneem dat bobbejane wat in die Blanco-omgewing lastig is, na Bergplaas gebring en hier vrygelaat word. Twee honde van mense wat hier naby woon, is al doodgebyt."
Met die ergste skok verby, kon sy Maandag goedig skerts oor haar komende skoolreünie in Bloemfontein.
"My ou skoolvriende wat van die petalje te hore gekom het, het laat weet ek mag net nie met 'n mes daar opdaag nie."
Die chaos ná die petalje.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'