Update
TUINROETE NUUS - Die 51-jarige Heidi Hobbs van George het Vrydagmiddag, 25 November net na 12:00 gesterf toe sy ná 'n heerlike stranduitstappie vroeër die dag saam met haar seun en kleinkind by De Dekke, Groot-Brakrivier oor die N2 gestap het en deur 'n motor getref is.
Hobbs, haar 18-jarige seun, Heinrich en vyfjarige kleindogter, Edlizaan het die oggend op die strand deurgebring voordat hulle by haar suster in Greenhaven, Groot-Brakrivier sou gaan kuier.
Volgens Hobbs se suster, Anne James, was sy in 'n winkelsentrum toe sy net 'n verskriklike gevoel oor haar gekry het. Sy het kort daarna 'n oproep van 'n kennis by die Spar oorkant die pad, waar die ongeluk gebeur het, gekry om te sê dat sy dadelik moet kom.
Toe sy op die toneel kom, het haar suster nog geleef, vir haar gekyk en haar oë geknip. Sy is kort daarna oorlede.
Hobbs word oorleef deur haar man, Edwin, dogter Edwardine (27), seuns Daniel (21), tweeling Heinrich en Heinry (18) en haar vyfjarige kleinkind na wie sy omgesien het terwyl haar ma gewerk het.
Hobbs was die oudste van vyf susters, Anne James, Maria Korkee, Rialet Kumutu en Elsie Gertse. Hulle is 'n hegte familie wat graag saam gekuier het. Hobbs se man, Edwin is gebroke.
"Ek het die liefde van my lewe verloor," het hy aan die koerant gesê. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Vorige artikel: Stranduistappie eindig tragies toe motor vrou in Groot-Brak tref
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'