GEORGE NUUS - 'n Vrou (25) van George het 'n klag van poging tot moord by George-polisie ingedien nadat daar Vrydagaand, 4 Augustus, omstreeks 23:55 op haar broer se voertuig, waarin sy 'n passasier was, geskiet is.
Die polisie het vandeesweek bevestig dat hulle die voorval ondersoek.
Volgens Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, sers. Chris Spies, dui voorlopige inligting daarop dat die slagoffer saam met haar broer gereis het toe hul voertuig, 'n Nissan Tiida, deur verkeersbeamptes in Knysnaweg afgetrek is.
"Die voertuig het weggejaag en 'n jaagtog het gevolg. Verskeie skote is afgevuur en die voertuig is in Fiskaalstraat, Maraiskamp tot stilstand gebring. Die slagoffer het beserings aan haar liggaam opgedoen," sê Spies.
Dit wil voorkom of meeste van die skote op die agterkant van die voertuig afgevuur is.
Die bestuurder van die motor (29) is na die voorval in hegtenis geneem. Hy word aangekla van dronkbestuur asook roekelose en nalatige bestuur. Die verdagte is later vrygelaat en gewaarsku om op 23 Februarie 2024 in die hof te verskyn.
Die ondersoek na die saak van poging tot moord duur voort. Nog geen arrestasies is in hierdie stadium gemaak nie. Die ondersoek duur voort.
Sover George Herald kon vasstel was dit verkeers-beamptes van provinsiale verkeer wat die Nissan afgetrek en agternagesit het. Daar is na bewering 15 skote op die voertuig afgevuur.
Jandre Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, het by navraag gesê hulle is bewus van die voorval en het onmiddellik 'n ondersoek van stapel gestuur. "Ons doen weereens 'n beroep op lede van die publiek om nooit te drink en te bestuur nie en om die wettige instruksies van 'n verkeerswetstoepasser te volg."
Een van die koeëls is deur die agtersitplek waar die slagoffer gesit het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’