GEORGE NUUS - Terwyl sy besig was om die pad by die voetoorgang oor te steek, is 'n vrou met 'n baba verlede maand voor Millies, in Blanco, omgery.
Volgens George-polisie se kommunikasiebeampte, sersant Michael Opperman, het 'n voertuig stilgehou en vir die voetganger gewag waarna 'n tweede voertuig die stilstaande motor verbygesteek het en die vrou, met die 10 maande oue baba in 'n stootwaentjie, omgery het.
Die vrou het geringe beserings aan haar gesig opgedoen. Die baba is gelukkig nie beseer nie.
'n Saak van roekelose en/of nalatige bestuur word deur die polisie ondersoek.
Inwoners van Blanco meen dit is slegs 'n kwessie van tyd voor iemand daar doodgery word.
Volgens die eienaar van Millies, Jacques Matthee, word die voetoorgang voor sy winkel daagliks verontagsaam.
"Meeste van die motoriste ry nie eers stadiger nie. Ons sit met pensionarisse, gestremdes en skoolkinders wat dié voetoorgang gebruik en motoriste blyk 'n veer te voel vir die padreëls en -tekens."
Die voetoorgang verder op, in Montaguweg, blyk nét so 'n skeelhoofpyn te wees.
"Blanco sit veral met 'n probleem oor naweke wanneer die publiek by die drankwinkel drink en sorgelose ouers hul kinders sienderoë laat rondhardloop.
"Kinders hardloop oor die voetoorgang met geen agting vir aankomende verkeer nie," sê Blanco-inwoner, Liana van der Rijst.
Volgens haar man, Deon, is die gebrek aan straatligte en die feit dat die voetoorgang op 'n draai geleë is ook twee probleme wat dringend aandag moet kry.
Volgens inwoners van Blanco word die voetoorgang voor Millies, asook die ander voetoorgange, bloot deur motoriste geïgnoreer.
Planne vir paaie in Blanco
Jacqulique von Brandis, 'n DA-wyksraadslid van Blanco, het aan die George Herald genoem dat daar wel planne in die pyplyn is vir van die paaie in Blanco.
"Ons het aansoek gedoen vir stoptekens in Georgeweg by Fabriekstraat."
Volgens haar sal die stopstraat nie wees om spoedvarke te rem nie, maar om die verkeersvloei te vergemaklik.
"Spoedwalle word ook naby die Searle- Maitlandstraat-kruising, asook voor Up with Downs in Pieter Theronstraat, beplan.
"In Montagustraat kan ons nie spoedwalle plaas nie omdat die Go George-busse daar loop. Verdere ondersoek sal gedoen word op ander moontlike oplossing."
ARTIKEL & FOTO: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'