HAARLEM NUUS - Die ma van 'n negejarige seun wat verlede Saterdag 21 Desember dood aan 'n boom aangetref is, is steeds in aanhouding.
Die seun, Wian Voster, 'n leerder van Haarlem Sekondêre Skool, was vir sowat drie dae vermis (sedert Donderdag 19 Desember), maar is nooit as vermis aangegee nie.
Wian se ma, Emerentia Voster (37), het Maandag 23 Desember in die hof op Uniondale verskyn, maar vir 'n totaal ander saak - minagting van die hof.
Sy was veronderstel om vroeër in Desember voor die hof te verskyn op 'n klag van kindermishandeling wat verband hou met haar oudste seun, Christiano Voster (14), wie ook 'n paar maande gelede gesterf het.
Hierdie inligting is aan George Herald deur 'n betroubare bron gedeel. Emerentia se jongste seun, 'n vierjarige, is tans in die sorg van 'n familielid.
Die oorsaak van Christiano se dood is nie aan George Herald bekend nie.
Polisiewoordvoerder sers. Chris Spies het by navraag gesê dat die polisie nie op hierdie stadium inligting kan verskaf rakende die dood van die ouer broer nie. Foto: Pexels
Johanna Booysen-Meyer, die halfsuster van die negejarige en sy jongste boetie, het by navraag gesê hulle is baie ontsteld oor die gebeure, en hoop dat die polisie hulle werk sal doen. "Net die Here alleen sal weet wat gebeur het," het sy gesê.
Volgens Booysen-Meyer is Wian se liggaam deur 'n verbyloper gevind waar hy aan 'n jong Black Wattle-boompie gehang het. Hierdie landelike area is sowat 6 km van sy woonhuis, wat in Proteaville geleë is.
Sy het gesê die familie se kommer strek al oor jare, en dat hulle al vantevore maatskaplike werkers genader het om hulp. "Die vrou het vir my gesê sy wil nie die een wees wat kinders van hul ma wegneem nie, maar dit is presies wat gebeur het. Ons het hulle verloor aan die dood."
Wat sê die polisie?
Polisiewoordvoerder sers. Chris Spies het by navraag gesê ’n lykskouing is uitgevoer om die oorsaak van die negejarige se dood te bepaal.
"Die uitstaande verslag vorm deel van die deurlopende polisieondersoek. ’n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen en geen gemene spel word in dié stadium vermoed nie," het Spies gesê.
Hy het bygevoeg dat die polisie nie op hierdie stadium inligting kan verskaf rakende die dood van die ouer broer nie. "Ons kan egter bevestig dat die 37-jarige vrou reeds Maandag, 23 Desember 'n hofverskyning gemaak het weens minagting van die hof. Dié saak is tot 15 Januarie 2025 uitgestel en sy is in aanhouding."
Die familie het blykbaar geen foto's van die oorledenes nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’