Die geleentheid is aangebied deur die AGS in Victoriastraat.
Hoewel hy treur oor sy geliefde lewensmaat van 67 jaar, Ria, wat in September verlede jaar oorlede is, het hy gesê almal se belangstelling vul sy "hart met geluk en vreugde".
Een van sy vier kinders, Paul, van Port Elizabeth, en die direkteur van Missions Africa, Ron Kinnear, wat spesiaal van Pretoria af gereis het vir die geleentheid, het albei vertel watter ingrypende invloed pastoor Olly op hul lewens gehad het.
Hy het 70 jaar gelede op 20-jarige ouderdom sy amptelike intreepreek in die AGS gelewer en is die langsdienende pastoor in die AGS in Suid-Afrika. Hy en Ria het bykans 100 gemeentes in Suid-Afrika en in ander lande, so ver as in Suid-Amerika, geplant. Hy word beskou as 'n baanbreker vir die AGS wat diep spore getrap het.
Pastoor Olly herstel nog van 'n nare ondervinding in die George-begraafplaas drie weke gelede toe hy en twee vriendinne Ria se graf besoek en hulle deur 'n rower aangeval is.
Sy verjaarsdagvieringe word komende naweek voortgesit wanneer sy twee dogters en twee seuns in Wildernis saamkom om by hom te wees.
Pastoor Olly Raper saam met, van links, Barbara Botha, Barbara Gudgeon en Jean Neil, 'n evangelis van Engeland. Foto's: Alida de Beer