Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - As deel van Laerskool George-Suid en die George Vryburgers se afsluiting van hul Veerlose Vlerke-projek, het twee onderwysers, Neva Bernstine en Nadia Jubber, Saterdag 29 Oktober, 'n tandem-valskermsprong uitgevoer in die bekwame hande van die Skydive Mossel Bay-span.
Die geld wat tydens die projek ingesamel is word gebruik om kos te koop vir mense in nood.
Die George Vryburgers sal die fondse deur hul Kos vir Kinders-projek bestuur en sewe skole uit die omgewing ondersteun met 'n daaglikse kospakkie vir leerders. Laerskool George-Suid sal deur sy omgeeprojek nood kan verlig aan kinders en ouers van die skool en gemeenskap.
Sas du Plessis, hoof van die skool, het die gemeenskap, die George Vryburgers en die skool bedank vir elkeen se deelname. Hy verduidelik dat die valskermsprong deel van 'n lootjieprojek was om geld vir die Veerlose Vlerke-projek in te samel.
"Dit was vir seker 'n dag om te onthou en iets wat ons volgende jaar selfs nog meer gaan uitbrei. Ons het reeds 'n paar nuwe idees wat ons wil toepas," sê hy.
FOTOGALERY: Tandem-valskermsprong vir Veerlose Vlerke-projek
Mense kon 'n lootjie teen R10 elk koop vir 'n kans om R10 000 los te slaan. Die wenner sal eerskomende Vrydag tydens die skool se saalbyeenkoms, bekendgemaak word. Die twee onder-wysers het op 'n hoogte van 10 000 voet 'n tandemsprong uitgevoer en kort na 13:00 veilig op die skoolterrein geland. Albei het dit as 'n ondervinding van 'n leeftyd beskryf en dit sterk aanbeveel.
"Dit was fantasties om George en die omliggende areas uit 'n ander perspektief te sien. Die vryval duur net 'n paar sekondes, maar dit was absoluut asemrowend," vertel Bernstine.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring om die mooi van George en die Tuinroete só te kon beleef. Die span van Skydive Mossel Bay is uiters bekwaam en baie professioneel," het Jubber ná haar sprong gesê.
VIDEO: Vreeslose onnies met Veerlose vlerke
VIDEO: George Vryeburgers samel geld in vir mense in nood
Hildred Basset van die George Vryburgers het gesê die projek was 'n reusesukses en hy bedank almal wat betrokke was.
"Dankie aan almal wat ons ondersteun en deelgeneem het. Dit is 'n groot voorreg om deel te wees van die projek en die gemeenskap," het hy na afloop van die geleentheid gesê.
Nadia Jubber (links) en Neva Bernstine saam met skoolhoof, Sas du Plessis, ná hulle veilig op Laerskool George-Suid se sportterrein geland het. Foto: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'