GEORGE NUUS - Planne is in die pyplyn om die George-Oos-poskantoor in Knysnaweg aan die einde van Augustus te sluit. Dit is deur 'n woordvoerder van die poskantoor bevestig.
Volgens die woordvoerder sou die voorgenome sluiting in Februarie plaasvind, maar is met ses maande uitgestel.
Lesers van die George Herald het dit onder die aandag van die koerant gebring dat die poskantoor einde Februarie sou sluit. Blykbaar is personeel reeds op 16 Januarie ingelig dat die poskantoor gaan sluit. Die perseel behoort nie aan die poskantoor nie.
Die spesifieke poskantoor is baie gewild en bedien sowat nege woonwyke vir die afhaal van geregistreerde posstukke.
Daar is ook 1 300 posbusse.
Dit is in Augustus 2013 in die posdiens se prestasie-meting aangewys as die beste poskantoor in die Wes-Kaap.
Buite die poskantoor is 'n groot kennisgewingbord waarop mense ingelig word dat winkelspasie en kantore binnekort kom.
Bryan de Beer het Dinsdag namens die eienaars gesê geen finale besluit is nog geneem nie. Gesprekke met die poskantoor gaan voort en dit is in die stadium voortydig om kommentaar te lewer. Daar word gehoop om in die nabye toekoms duidelikheid oor die aangeleentheid te kry.
Chris Oosthuizen, bestuurder van die poskantoor, het alle navrae na die poskantoor se kommunikasie-afdeling verwys.
Die poskantoor-woordvoerder het gesê die gebou is onlangs verkoop en die nuwe eienaar wil dit herontwikkel. Die poskantoor vorm nie deel van die nuwe planne nie. Eerste keuse sal wees om die bestaande posbusse op die perseel te hou. Alternatiewelik kan dit oorkant die pad by die parkeerterrein van 'n winkelsentrum geplaas word.
Die bestaande personeel sal na die George-poskantoor en die Tuinroete-poskantoor oorgeplaas word.
Joh Groenewald, bestuurslid van die Filateliese Federasie, het gesê wat hom betref beteken die beste poskantoor in die Wes-Kaap dat dit loshande die beste in die hele land is. Volgens hom sal dit jammer wees as dit sluit en dit sal 'n groot verlies wees. Dit bedien die hele George-Oos en speel ook 'n rol in die uitbetaling van sommige mense se pensioene. Sou dit op dié perseel sluit, moet dit na 'n ander perseel skuif.
IN SHORT
Plans are in the pipeline to close the George East Post Office, in Knysna Road, at the end of August. The building that houses the George East Post Office was recently sold and the new property owner will redevelop the property. The post office is not part of the plans for the new building. According to Bryan de Beer, who spoke on behalf of the owners, negotiations with the post office are ongoing and no final decision has been made.
Die George-Oos-poskantoor in Knysnaweg wat gaan sluit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'