GEORGE NUUS - Die George Herald is die afgelope week oorval met vrae van inwoners en belanghebbendes oor die hantering van die brandsituasie. Uit inligting wat beskikbaar is, ontvou 'n prentjie wat nie altyd baie duidelik is nie.
Dit wil voorkom of daar veral onduidelikheid is oor die tydperk van die aand van 24 Oktober, toe die eerste brand op 'n plaas by Herold ontstaan het, tot Sondagoggend 28 Oktober. Vrae word ook gevra waarom lugsteun nie op Saterdag 27 Oktober beskikbaar gestel is nie.
Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê hy was daardie naweek uitstedig. Die brandbevelvoerder het hom meegedeel dat lugsteun nie verskaf kon word op 27 Oktober as gevolg van weerstoestande.
Hy het die Sondag na George teruggekeer. 'n Noordewind is voorspel en hy het besef moeilikheid kan kom.
Hy het al die rolspelers betrek en Sondag is die Gesamentlike Beheersentrum geaktiveer. Hy het tot Saterdag niks met die bekamping van die ramp te doen gehad nie. Tot Sondag was dit uit en uit 'n brandweer-lynkoördineringsfunksie.
Op die vraag hoe toegelaat is dat die brand oor die berg kon versprei, het Otto geantwoord billikheidshalwe moet die vraag gevra word of lugsteun 'n verskil sou gemaak het. Hou in gedagte dat die veld lanklaas gebrand het. Lugsteun alleen sou nie gehelp het nie. Grondspanne moes ook ingespan word.
* Die George Herald het vrae aan die Gesamentlike Beheersentrum gestuur, maar het teen saktyd geen terugvoer ontvang nie. Ons hoop om in die volgende uitgawe die volledige antwoord van die Garden Route-distriksmunisipaliteit te publiseer. - Red
Lees 'n verwante artikel: Zille tevrede dat lesse geleer is uit Knysna-brande
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'