GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit het sy besluit om die dienskontrak vir mediamonitering aan Meltwater SA toe te ken, by monde van sy mees senior amptenaar, Trevor Botha, die munisipale bestuurder, verdedig.
Dit volg op kritiek (sien berig hierby) dat die munisipaliteit besluit het om die kontrak aan 'n Amerikaans-gebaseerde maatskappy toe te ken.
Botha het in antwoord op omvattende vrae van die George Herald per e-pos gesê dat die kontrak toegeken is aan die goedkoopste kwoteerder.
Volgens Botha is mediamonitering deel van die George-munisipaliteit kommunikasiedepartement se jaarlikse operasionele begroting. Dit is 'n elektroniese diens wat sleutelwoorde gaan soek sodat die munisipaliteit kan monitor waar ook al die George-munisipaliteit, insluitende George-toerisme, in die media verskyn.
Dit sluit plaaslike, streek, nasionale en internasionale media vir radio, televisie, drukmedia en aanlynmedia in. Die inligting word daagliks aanlyn aan die kommunikasiedepartment gestuur, tesame met weeklikse en maandelikse analisering en rapportering.
Die inligting word in die kommunikasiedepartement se maandelikse verslag ingesluit en na al die direkteure, afdelingshoofde en raadslede gestuur.
Verskillende departemente gebruik die inligting in verskillende maniere wat kan insluit: reaksie op aangeleenthede wat die munisipaliteit in enige manier mag betrek en in die media verskyn het, beplanning, rapportering aan provinsiale en nasionale departemente, en algemene kennis om personeel, rolspelers en raadslede oor die wyer prentjie in te lig.
Botha het gesê aangesien die moniteringsbegroting onder R200 000 per jaar is, is 'n formele kwotasieproses gevolg. Die nuwe aanstelling is geldig vanaf 1 Julie. Die kontrak vir 2019/20 beloop R86 250 en is op 27 Junie 2019 toegeken. 'n Suid-Afrikaanse maatskappy, Newsclip Media Monitoring, het die kontrak in 2018/19 gehad. Newsclip se kwotasie vir die nuwe boekjaar was egter R105 079,56 - byna R19 000 meer as die van Meltwater.
Beide verskaffers is op die munisipale databasis geregistreer as besighede met kantore in Suid-Afrika en is buite die George munisipale gebied geleë.
Tot die munisipaliteit se kennis is daar slegs twee diensverskaffers wat hierdie gespesialiseerde diens kan lewer in 'n formaat wat vir die munisipaliteit se doeleindes bruikbaar is.
Newsclip Media en Meltwater SA het gereageer op die formele kwotasie wat op die George-munisipaliteit se website en kennisgewingbord geadverteer was. Die kontrak is aan die goedkoopste kwoteerder gegee.
Volgens Botha poog die munisipaliteit waar moontlik om plaaslike besighede te bevorder wat aan die nodige vereistes voldoen, wat insluit registrasie op die Nasional Sentrale Diensverskaffers-databasis asook die George munisipale databasis.
Navrae oor hoe om te registreer kan gerig word aan 044 801 9450. Die munisipaliteit se verskaffingsbeleid is op die webtuiste beskikbaar.
Dr. Dennis Farrel, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die spesifieke situasie nie. Hy het bygevoeg dat in die algemeen is die sakekamer se benadering dat hulle "aktiviste is vir plaaslike besigheid".
Dit maak nie saak of dit 'n staatsinstelling of die privaat sektor is wat betrokke is - die sakekamer moedig veral korporatiewe maatskappye aan om van verskaffers plaaslik en in die gebied gebruik te maak. Dit stimuleer die plaaslike ekonomie. "Ons moet vertroue vestig in plaaslike besigheidsvermoë. Dit kan ook help met plaaslike werkskepping."
Oorsig oor Meltwater
Meltwater se bestaan kan teruggevoer word na 2001 in Oslo, Noorweë waar die oorspronklike maatskappy begin is. Van 'n beskeie begin het dit sedertdien gegroei en uitgebrei.
Luidens die maatskappy se webtuiste is die hoofkantoor in San Francisco, Amerika. Hy het kantore in 20 lande en 41 stede. Hy het meer as 23 000 klante in 108 lande.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'