GEORGE NUUS - Nie eers die moontlikheid van slegte weer kon verlede week die geesdrif demp toe Voortrekkers van oor Suid-Afrika bymekaargekom het vir hul jaarlikse kamp by Swartvlei buite Sedgefield nie.
Die sowat 520 kinders, voorskools tot gr. 7 en sowat 180 volwassenes, het saamgetrek vir 'n Voortrekker-gebiedskamp. Die kinders was hoofsaaklik van Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mpumalanga. Daar was ook kinders van die Wes-Kaap.
In 'n stadium verlede week het die organiseerders 'n weerwaarskuwing ontvang dat slegte weer op pad is en teen die naweek die gebied sou bereik.
Daar is toe besluit om die tente as voorsorgmaatreël al Vrydag af te slaan en die kinders is in sale by Sedgefield gehuisves.
Kobus Muller, wat gehelp het met die reëlings vir die volwassenes tydens die kamp, het net lof vir die gemeenskap van Sedgefield.
Die kamp kon Saterdag voltooi word en almal is veilig huis toe.
Volgens Muller was dit die 27ste keer wat die kamp plaasgevind het. Deelnemers moet bepaalde vaardighede aanleer om kentekens te verwerf en dit kan net oor 'n paar dae plaasvind.
Van die kinders het vir hul seekenteken gewerk en ander vir 'n kenteken, genaamd Afrikanerkind wat meer gefokus het op die geskiedenis en gebeure van die omgewing. Daar is onder meer gekyk na die lewe van die skrywer, Dalene Matthee en die omliggende woude.
Kursusse is aangebied na gelang van kinders se ouderdomme.
Dit het ingesluit seepret, seeversamelkuns, strandbewustheid en varswaterkunde waarin aandag gegee is aan die lewe by die strandmeer.
Die kamp is baie gewild en reëlings begin al in Augustus die vorige jaar.
Vanjaar se kamp was binne twee ure na besprekings geopen het vol bespreek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'