GEORGE NUUS - Die George Voorbereidingskool het 'n uiters suksesvolle herwinningsprojek wat oor die afgelope nege maande meer as 6 000kg rommel herwin het.
Die rommel hierby ingesluit is 1 956kg plastiekbottels, 1 700kg karton en papier, 1 264kg plastieksakke, 84kg blikkies en 180kg broodknippies.
Op 20 September, Nasionale Herwinningsdag in Suid-Afrika, het die skool hulde gebring aan al die kinders, ouers, belangstellendes, oupas en oumas wat betrokke is by die Voories-herwinningsprojek. Die projek funksioneer al 18 maande en maak 'n reuse-verskil in die omgewing.
Die skool het die George-munisipaliteit, Landmark Foundation en Henque Waste bedank vir hulle ondersteuning met die projek.
Monica Vaccaro van die Landmark Foundation het gesê dis 'n voorreg om met die Voories-herwinningspan saam te werk.
"Hulle is leiers in herwinning in die Suid-Kaap, en waarskynlik in die land. Landmark Foundation is geweldig trots op die skool en bedank Diane Venter, die ongelooflike onderwyser wat die projek aanvoer saam met ander toegewyde personeel."
Die Landmark Foundation het die span kinders onlangs bederf met 'n uitstappie by die Tuinroete Botaniese Tuin, wat hulle toegang geborg het as erkenning vir die wonderlike werk wat hulle doen.
Die herwinningspanlede, almal graad 3's, help met die sortering en tel van die items wat herwin word. Hulle help ook om medeleerders op te voed oor herwinning en het 'n herwinningsliedjie gekomponeer om leerders te help onthou wat om te herwin. Van die spanlede is ook verantwoordelik vir die wurmplase by die skool.
"Hierdie leerders is baie toegewyd en maak 'n reuse-verskil in die skool en ons gemeenskap," sê Vaccaro.
Die herwinningspannetjie wat die Landmark Foundation bederf het met 'n besoek aan die Tuinroete Botaniese Tuin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’