Video
GEORGE NUUS EN VIDEO Dit is met gemengde gevoelens wat inwoners van Andersonville en New Dawn Park 'n projek vir nuwe stormwaterpype in hul gemeenskap ontvang.
Ofskoon die buurte dankbaar is vir dié ontwikkeling, is gemoedere versuur oor die feit dat daar nie soos gewoonlik name getrek is om te bepaal wie uit die gemeenskap by die projek betrek gaan word nie.
"Ons mense is werkloos. Nou sien hulle hier is 'n projek in hul eie woonbuurt, maar niemand uit die gemeenskap word vir die projek gebruik nie," het Charly Daman, woordvoerder van die Landless People Civic Organisation, gesê.
Die organisasie beywer hulle om wanpersepsies uit die weg te ruim en kwessies te ondersoek wat vir die gemeenskap belangrik is.
Munisipale woordvoerder Chantel Edwards-Klose, het by navraag verduidelik waarom daar met hierdie projek effens anders te werk gegaan word: "Die projek word as kritiek geag en vanweë die kort tydperk vir konstruksie, asook die Covid vlak 3 inperking, wat die trekking van inwoners vir die projek verbied, is besluit dat die kontrakteur self plaaslike arbeid mag verkry."
Tans word die projek in twee areas uitgerol, naamlik New Dawn Park en Andersonville (aangrensende woonbuurte) en Thembalethu (sones 1 en 9), waar die meeste stormwater- verwante klagtes vanweë kapasiteitsprobleme ervaar word.
Die verdeling van fondse (b.t.w. ingesluit) en konstruksietydperk is as volg: New Dawn Park (R4,1 miljoen; Desember 2020 tot 31 Mei 2021); Andersonville (R2,7 miljoen; Desember 2020 tot 18 Junie 2021); Thembalethu sone 1 (R3,2 miljoen; Desember 2020 tot 31 Mei 2021); Thembalethu sone 9 (R3,4 miljoen; Desember 2020 tot 30 Junie 2021).
Kyk 'n video hieronder:
Samestelling van die werksmag
- New Dawn Park: Tans geen subkontrak-teurs vir die herbelyning van die bestaande plaveiselpad; loting sal nog gedoen word met die hulp van die EPWP-kantoor, maar word tans verhoed deur Covid-19 vlak 3 inperkings. Op die oomblik werk daar vyf algemene werkers, een half-geskoolde en twee geskoolde werkers vanuit die woongebied.
- Andersonville: Geen subkontrak-teurs is nodig nie aangesien die aanlê van 600 mm tot 900 mm pype met behulp van masjinerie in die grond-sypaadjie geskied. Teerwerk by padkruisings sal ook meganies gedoen word. Daar is tans drie algemene werkers vanuit die woongebied.
- Thembalethu sones 1 en 9: Subkontrak-teurs is vir die plavei van gruispaaie met die hulp van die EPWP-kantoor aangestel. Hulle werk sal eers begin wanneer alle pype geïnstalleer is. Tans werk drie algemene werkers by elke sone, vanuit die betrokke gebied.
Stormwaterpype word tans in Proteaweg in Andersonville deur 'n span van Constructive Civil geïnstalleer.
Andries Truter (links), projekbestuurder van Constructive Civil, in diep gesprek met 'n werker.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'