TUINROETE | KAROO | HESSEQUA NUUS - Parkrun-deelnemers en atlete oor die algemeen het verlede week 'n sug van verligting geslaak toe die president aangekondig het dat hulle nie meer beperk sal word wanneer hulle in die openbaar wil oefen of draf nie.
Met die oorskakeling na vlak 3 van die nasionale inperkingsmaatreëls mag die publiek nou vanaf 06:00 tot 18:00 litte losmaak en draf.
Oudtshoorn-parkrun se organiseerders het egter al drie weke gelede begin om virtuele parkruns aan te bied sodat atlete fiks en aan die gang kan bly.
Hoe werk dit?
Deelnemers word versoek om met maskers te draf en hul tye word elke Saterdagoggend oor 5 km beoordeel. Elkeen is verantwoordelik om sy eie tyd te monitor en alle tye moet voor 09:00 op Facebook gelaai word. Die organiseerder moedig ook deelnemers aan om 'n foto van hulself en onderskeie roetes te neem.
Alhoewel hierdie virtuele parkruns se tye nie dien as amptelike parkrun-mylpale nie, is dit 'n prettige manier om in kontak met jou mede parkrun-deelnemers te bly, het Johan Coetzer, een van die organiseerders gesê.
Volgens verlede week se wenner, Bert Verlinde, doen die virtuele-parkruns wondere vir die atlete se geestelike gesondheid.
"Die strewe is steeds om te wen alhoewel daar niemand voor of agter jou hardloop nie. Basies is dit net jy en jou horlosie en die eindstreep. Ek beoog om vir solank as moontlik elke 5 km-resies te wen by elke virtuele-parkrun waaraan ek deelneem," het Verlinde sy teenstanders gewaarsku.
Tarryn Jullies en Francois le Roux was die vorige twee parkruns se wenners.
Tarryn Jullies
Hierdie week se voorste drawwers en hul tye:
- Bert Verlinde -18:49;
- Daniel Seha - 20:57;
- Chris Oertel - 22:03;
- Melanie Verlinde - 22:21;
- Bianca Malan - 23:48;
- Tarren Jullies - 23:48;
- Francois le Roux - 27:20;
- Conrad Jullies - 27:45;
- Bart Saaiman - 28:12;
- Johann Coetzer - 29:28;
- Cobus Malan - 29:47.
Bert Verlinde
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'