GEORGE NUUS - Die tolhuis-span bied soos vorige jare saam met die George-museum 'n program aan om Erfenisdag op 23 September 'n onvergeetlike ervaring te maak.
Die dag skop af met 'n praatjie by die houtafdeling van die museum tussen 07:00 en 09:00. Ligte tradisionele verversings sal ook bedien word.
Vanaf 09:00 gaan almal na die tolhuis waar die fiksste persone die bakens op die Cradock-staproete gaan verf. Dit duur tot 12:00.
Ander gaste kuier saam en geniet pannekoek en koffie asook 'n praatjie oor die Tolhuis en die name van die draaie in die Montagupas en ander passe in die omgewing.
Om 12:00 word 'n piekniekmandjiekompetisie aangebied waar persone 'n mandjie met tradisionele geregte vir tussen twee en vier persone moet pak.
Die uitpak van die beste tradisionele mandjie vind plaas om 12:30 en bekendes van die omgewing doen die beoordeling. Wonderlike pryse is te wen.
Terwyl almal saam kuier maak die Eden Minstrals musiek en vir diegene wat nie 'n mandjie het nie, word een teen R100 vir vier persone aangebied deur die Vriende van die Tolhuis.
'n Besprekingsfooi van R20 per persoon word gevra en navrae en inskrywingsvorms is te kry by die museum se ontvangstoonbank of by Gerda Stols by 083 772 8252 of Lorinda Hakini by 044 873 5343.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'