GEORGE NUUS - Die tragiese tonele, hartseer, trane en skaars glimlagte wat plaaslike fotograaf, Deidre Cloete, sedert Maandag 6 Mei in Victoriastraat met haar kamera vasgevang het, sal haar vir die res van haar lewe bybly.
Vir baie in die sportkringe is Cloete nie 'n vreemde gesig nie, maar dit is ongewoon om haar op 'n misdaadtoneel te sien. Tóg neem haar deursettingsvermoë en passie om die tragiese Victoriastraat-ramp met haar kamera vas te vang, haar daagliks na die toneel.
"Ek word nie hiervoor betaal nie, ek doen dit vir die reddingswerkers, ons nooddienste, die vrywilligers en almal wat eendag na die tragedie deur my foto's sal kan terugkyk," sê Cloete.
Cloete is besig met 'n onbeplande foto-dokumentêr wat sy graag in 'n koffietafelboek wil omskep. Dit was egter nie die plan nie.
Sy was eers nie bewus van die voorval nie, maar is deur een van die reddingswerkers daarvan in kennis gestel. In daardie stadium was sy besig om 'n nagbergfietswedren te kiek.
"Ek het Maandagaand na 21:00 op die toneel aangekom. In daardie stadium mag ek geen foto's geneem het nie en ek was ook glad nie van plan nie. Ek was hier tot 02:00 die volgende oggend en het almal en alles waargeneem. Ek het hoegenaamd nie 'n behoefte gehad om dit af te neem nie. Ek meen, gewoonlik neem ek sport af en almal glimlag vir my," sê Cloete.
Met 'n ongekende passie vir ons reddingswerkers en nooddienstepersoneel en die werk wat hulle doen, keer Cloete daagliks terug na die toneel.
"Dis die mense wat ek altyd afneem, hulle is al soos familie en ek dink dis ook vir hulle belangrik. Ek neem die foto's agter die skerms. Ek dokumenteer Victoriastraat."
Lesse geleer
Die ramp is nog lank nie verby nie en sover was dit 'n veeleisende 10 dae vir elke liewe persoon op die toneel. Maar selfs in die donkerste van tye is ons nie te oud om te leer nie.
"Ek het so baie geleer," vertel Cloete. "Een van die lesse wat uitstaan is dat mense mekaar nodig het. Ons lewe nie geïsoleerd nie. Dit was vir my een van die moeilikste en mees emosionele ervarings in my lewe.
"Maar wat vir my wonderlik is, is dat ons [dié op die toneel] nie eers almal mekaar se name ken nie, en dit maak nie saak nie. Ons beteken vir mekaar so baie. Hierdie is 'n krisis en ons deursettingsvermoë word getoets.
"Ek het al baie trauma beleef, maar Victoriastraat en die Knysna-brande, sal my vir altyd bybly.
"Die mense is so 'n deel van my lewe en vreemdelinge het vriende geword. Ek glo 'n fotograaf is 'n klankbord vir 'n storie en as jou menseverhoudinge nie reg is nie kan jy nie die storie vertel nie.
"Onder die omstandighede is dit 'n ongelooflike ervaring, en ek sal graag hierdie golf enduit wil ry. Die moegheid is op almal gesigte. Dis moeilik vir almal. Niemand het hier 'n titel nie, niemand het 'n status nie. Hier het almal net een doel - ons wil net help."
Cloete se foto's kan daagliks op haar Facebook-blad gesien word.Die reddingshonde is baie gewild en speel 'n hoofrol saam met hul hanteerders en ander reddingswerkers om mense onder die puin uit te snuffel.
Cloete het 'n paar van haar eie foto's uitgekies om haar tyd wat sy tot dusver op die toneel spandeer het, op te som. Hier is reddingswerkers op die toneel besig om bourommel te verwyder.
Nog een van Cloete se gunstellinge. 'n Span reddingswerkers en vrywilligers op die toneel in Victoriastraat.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’