GEORGE NUUS - Die Vryheidsfront Plus se kandidate vir die komende vier tussenverkiesings van 11 November is amptelik op 25 September, tydens 'n takvergadering by die huis van past. Frans Joseph, ondervoorsitter van die VF Plus se tak in George, voorgestel.
Die vierstuks is Charly 'Dampies' Damon (wyk 27, Pacaltsdorp), Errol Wildemans (wyk 14, Rosedale), Enrico 'Rico' Figland (wyk 8, Parkdene), Benjamin 'Bennie' Bosch (wyk 17, Conville).
Volgens die party se streekkoördi-neerder, adv. Gert van Niekerk, is al vier die kandidate welbekend aan hul gemeenskappe. "Ons is redelik opgewonde oor die snelle groei van die VF Plus in George en het die volste vertroue dat hierdie vier kandidate 'n aanwins vir hul gemeenskap sal wees.
Hulle fokus is op effektiewe dienslewering, werkskepping, behuising en bekamping van misdaad," het hy gesê.
Van Niekerk beskryf hul kandidate as volg:
Damon het jare lange ervaring as wykskomiteelid en is nou betrokke by gemeenskapsveiligheid. Hy is die president van die Young Roses-voetbalklub, voorsitter van die Pacaltsdorp-buurtwag en stigter van die nie-winsgewende organisasie Hear the People of South Africa, wat gefokus is op jeugontwikkeling.
Wildemans is 'n leier in Rosedale met 'n wye ervaring oor 'n tydperk van 18 jaar in die politieke arena. Hy is ook by vele gemeenskapsprojekte in die woongebied betrokke.
Errol Wildemans
Figland is 'n boorling van Parkdene en 'n erkende leierfiguur wat dien op die Parkdene-wykskomitee.
Enrico Figland
Bosch het in die wyk wat hy verteenwoordig, Conville, grootgeword. Hy het goeie ervaring in jeugpolitiek en ken die hartklop van sy mense.Benjamin Bosch
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'