GEORGE NUUS - Beweerde dwelmhandelaars het hul rieme dié naweek styfgeloop ná die polisie by afsonderlike geleenthede op onwettige drank en dwelms beslag gelê het.
Twee verdagtes is in afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem nadat die polisie Vrydagmiddag, 5 Februarie, op onwettige drank- en dwelmverkope in Golden Valley, Blanco, toegeslaan het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies het lede van die honde-eenheid en die gebied se misdaadbestrydingseenheid 'n klopjag op 'n perseel in Lawsstraat uitgevoer waar beslag gelê is op onwettige drank en ammunisie. 'n 33-jarige verdagte is hier in hegtenis geneem.
Kort daarna is 'n 30-jarige verdagte op 'n ander perseel in dieselfde woonbuurt in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel ná daar klein hoeveelhede tik in sy besit gevind is.
Albei is vrygelaat op waarskuwings om later in die hof the verskyn.
Drank en dwelms in Borcherds
Dieselfde aand is 'n vrou (30) van Borcherds in hegtenis geneem ná 183 liter onwettige drank in haar besit gevind is. Nog 'n verdagte (20) is tydens 'n roetine patrollie in dieselfde woonbuurt vasgetrek toe 30 Mandrax-tablette in sy voertuig gevind is.
Hy is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dwelms en later vrygelaat om op 'n ander datum in die hof te verskyn.
Mandrax tydens padblokkade gevind
Op Donderdag 4 Februarie is 'n man (32) in hegtenis geneem ná sowat 2 200 Mandrax-tablette met 'n geskatte straatwaarde van R140 000 in sy besit gevind is.
Volgens Spies is die verdagte tydens 'n roetine ondersoek by 'n padblokkade op die N2 naby die Garden Route Mall van die pad afgetrek, waarna die dwelms in die deurpanele van sy voertuig gevind is. Die vermoede bestaan dat die dwelms vir die Kaap bestem was.
Die man is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel en vrygelaat op 'n waarskuwing om later in die hof te verskyn.
In 'n onverwante voorval het lede van die polisie se openbare orde eenheid (Pops) op Dinsdag 2 Februarie by 'n huis in Parkdene toegeslaan. "Tydens 'n soektog op die perseel is daar op 39 Mandrax-tablette, 20 sakkies tik, twee selfone en 'n onbekende bedrag kontant beslag gelê," sê Spies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'