Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Die moordenaars van Theodore Roman (51) van Delvillepark, wat vroeër die week by sy drankwinkel in Borcherds doodgeskiet is, het met niks meer as 'n boksie glase gevlug nie.
Die bekende sakeman van Borcherds is omstreeks 09:00 Maandagoggend, 22 Januarie by Boeta's Corner in Nelson Mandela-boulevard, tydens 'n rooftog vermoor.
Tot oormaat van ramp is die verdagtes na bewering weg met slegs die boksie glase wat hulle moontlik met 'n boks geld verwar het.
Roman het, volgens inligting, nie banksakkies gebruik nie, maar het eerder die besigheid se geld in boksies versteek.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, was Roman en sy winkelassistent op pad om geld te gaan bank toe twee mans die gebou binnekom en aandring op die geld.
Roman het hom teëgesit waarna die verdagtes op hulle losgebrand het.
Tydens die skietery het die assistent glo 'n boksie met geld agter die toonbank ingegooi en daar weggekruip.
Hulle het hom misgeskiet, maar Roman is drie keer in die bors getref.
Die verdagtes het 'n boksie gegryp, waarin hulle vermoedelik gedink het geld in sou wees, en te voet gevlug.
Roman is op die toneel dood.
Die boks met die glase en 'n vuurwapen is later gevind.
Die vuurwapen is vir ballistiese toetse gestuur om te bevestig of dit die wapen is wat die doodskote geskiet het.
Een van die verdagtes, Luvyuo Dondashe (43) van die Oos-Kaap, is kort na die voorval aangekeer en het gisteroggend, Woensdag 24 Januarie, in die George-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Hy word na bewering op 'n reeks soortgelyke voorvalle gesoek. Die saak is tot 14 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.
Daar word nog na die ander verdagte gesoek.
Theodore Roman.
Kyk videos hieronder:
Generaal-majoor Oswald Reddy, die George-gebiedsbevelvoerder, het die Conville-polisie sowel as die gemeenskap geprys vir hul waaksaamheid en vinnige reaksie wat tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei het.
Enigeen met inligting rondom die voorval, kan sersant Raldon Mafutu by 044 803 3302 of 044 803 3300 skakel.
Hy laat 'n groot leemte
Volgens Roman se suster, Charmaine Titus, was hy 'n steunpilaar vir hul familie en die gemeenskap.
"Hy was 'n lieflingbroer en -seun. Sy hart was vol omgee en hy het altyd respek teenoor almal betoon.
"My broer was hard-werkend, passievol en altyd bereid om te help. Sy liefde vir sy medemens het uitgestraal en hy het altyd die familie se belange op die hart gedra. Ons gaan hom vreeslik mis; hy los 'n groot leemte in ons harte."
Sy seun, Charl, onthou hom as 'n goeie man wat deur die gemeenskap gerespekteer is.
"Hy was ons steunpilaar en nooit gehuiwer om iets vir ons te doen nie."
Polisie en forensiese deskundiges op die moordtoneel by Boeta's Corner Maandagoggend.
Roudiens
'n Roudiens word vanaand (25 Januarie) by Roman se huis, Artillerystraat 70 in Delvillepark, gehou en die kerkdiens vind Saterdag om 09:00 by die St. Paul's Kerk in Conville plaas. Roman sal tydens 'n privaat diens veras word.
Lees 'n verwante artikel: Man in drankwinkel doodgeskiet
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'