Update
GEORGE NUUS - Die vier verdagtes in 'n transitoroofsaak aan wie borgtog vroeër vanjaar geweier is, het Vrydag weer vlugtig in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en kennis gegee dat hulle teen die weiering van borgtog wil appelleer.
Simphiwe Matwa, Lwandiso Lento, Masixole Dolomba en die weermag-kaptein, Sakhele Nkabi, almal van George, staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van 'n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Die saak spruit uit 'n voorval op 19 Julie vanjaar toe 'n sekerheidswag van Fidelity by 'n vulstasie in Bridgton van sy vuurwapen en 'n groot bedrag geld beroof is.
Drie van die verdagtes is kort na die voorval aan George se kant van die Outeniquapas in hegtenis geneem. Nkabi is 'n paar dae later in hegtenis geneem.
Die saak is Vrydag deur landdros Williams tot 3 Desember uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'