TUINROETE NUUS - ‘n Vermeende rower wat tydens ‘n stoeigeveg met ‘n buurtwaglid op Glentana in die been gewond is, bly onder polisiebewaking in die George provinsiale hospitaal.
Polisiewoordvoerder, sersant Laurianne Botha sê lede van die Glentana-buurtwag het Saterdagaand op inligting gereageer oor drie verdagtes wat tussen bosse langs die N2 op Groot-Brakrivier wegkruip.
Botha sê by nadere ondersoek het die buurtwaglede op swartsakke vol vermoedelik gesteelde eiendom afgekom.
Sy sê die buurtwaglid het die verdagtes genader waarna een van hulle, ‘n man in sy 30’s, op die buurtwaglid afgestorm het en sy vuurwapen probeer gryp het.
Botha sê ‘n gestoei het uitgebreek en die vermeende rower is in die been geskiet. Die ander twee verdagtes het weggehardloop en is steeds op vrye voet. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot roof.
Die kusgebied het die afgelope paar maande onder huisbrake deurgeloop en word gereeld geteiken.
Sedert Januarie, 2019 het plaaslike buurtwagte saam met verskeie afdelings van die polisie en Suiderkruis Sekuriteit gewerk om wat hulle vermoed, ‘n sindikaat is, wat byna op ‘n daaglikse basis die area teiken, te probeer vastrek.
Artikel: Mossel Bay Advertiser
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'