GEORGE NUUS - Dwarsoor die land het ontevrede kiesers laat blyk dat hulle weens foute met die registrasieproses nie op Maandag 1 November hul kruisie kon trek nie.
Sommige blameer die elektroniese stelsel en masjiene wat vir die registrasie gebruik is (VMD's) terwyl ander vinger wys na wat hulle noem 'n gebrek aan opleiding van verkiesingsbeamptes en die kort tydperk waartydens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vir die verkiesing moes gereedmaak.
Hierdie probleme is ook uitgewys tydens 'n paneelbespreking met verskeie mediahuise wat Dinsdagoggend op DStv-kanaal 403 eNCA uitgesaai is.
OVK-kommissaris Nomsa Masuku, het gesê dat deeglike opleiding geskied het en dat die OVK gereed was vir die verkiesing.
"Mense tree op die vreemdste maniere op wanneer hulle onder druk is," het sy gesê. OVK se hoof- uitvoerende beampte, Sy Mamabolo, het bevestig dat die kommissie onder geweldige druk verkeer het, maar dat hulle gereed was vir die verkiesing.
Volgens Mamabolo het die elektroniese masjiene verseker dat meer as 'n miljoen kiesers se adresse binne 'n dag op die stelsel kon kom, terwyl dit sowat twee maande sou neem om dit op die gewone manier te laai. Hy het die versekering gegee dat die OVK die probleme nagaan en leer uit vanjaar se verkiesingsproses.
Kruisie verby
Neil Zaaiman van Denneoord is tussen Laerskool Denneoord en NG Kerk Denneoord rondgestuur, maar kon op die ou end nêrens 'n kruisie trek nie. "Ek het seker gemaak ek weet waar ek geregistreer is, maar dit het niks gehelp nie. Dit is glo nie 'n geïsoleerde geval nie," het hy gesê.
Lizelle Lottering het haar misnoeë op sosiale media uitgespreek. Haar dogter sou vir die eerste keer gaan stem, maar was nie op die lys nie: "My vraag is ... word regte mense aangestel vir admin en hoeveel ander moes vandag omdraai?"
George Herald-joernalis Alida de Beer het met 'n kieser van Parkdene gesels wat nie by die Parkdene Sekondêr kon stem nie. Die man moes in Rosemoor gaan stem terwyl sy familielede wat op dieselfde erf as hy woon, wel by die skool kon stem. "Dit is die tweede verkiesing waar ek by die verkeerde wyk geregistreer is, dit nadat my adresverandering wel weer voor gister se verkiesing reggestel is," het hy gesê.
Verhuising
Die ACDP se wykskandidaat vir wyk 3, Johan du Toit, het gesê talle probleme het opgeduik waar mense tydens registrasienaweek hulle adresse verander het, maar dan op stemdag nie op die verkiesingslys verskyn het nie. "Daar is 'n egpaar wat van Kriel in Mpumalanga na George getrek het. Hulle het geregistreer by wyk 3, maar hulle name verskyn nie op die verkiesingslys nie. Hulle was nog steeds in Kriel geregistreer," het Du Toit gesê.
"In nog 'n geval bly 'n man en vrou in een huis en albei het vroeër in wyk 3 gestem. Op stemdag moes die vrou by wyk 3 by Hoërskool Heatherlands stem terwyl die man in wyk 26 by NG Kerk Blanco, moes stem."
Volgens Du Toit het sommige beamptes by die verkiesingslokaal in wyk 3 gesukkel om te spel wanneer hulle vanne opsoek.
Spesiale stembokse
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê sommige kiesers wat nie op die kieserslys was nie, het met 'n bewys van registrasie by stemlokale opgedaag, berig George Herald-joernalis Eugene Gunning. Volgens Van Niekerk moes spesiale stemkartondose vir hulle oopgemaak word waarin hulle stembriewe geplaas is.
Daar is 'n aantal aangeleent-hede waaroor die VF Plus ongelukkig is. Die party in George het dit reeds na sy Wes-Kaapse kantoor gestuur en hulle sal dit op daardie vlak by die OVK opper.
Van Niekerk het gesê dat die skuif van die wyksgrense ook probleme veroorsaak het. Daar was mense wat 20 tot 30 jaar in 'n wyk gewoon het. Van die mense het aanvanklik nie geweet hulle is in 'n nuwe wyk ingedeel nie. Toe hulle by die stemlokale in die nuwe wyk kom, moes hulle hoor hulle moet weer in hul ou wyk gaan stem.
Sommige kiesers het ook gaan toustaan om te stem. Toe hulle voor kom om stembriewe te ontvang moes hulle hoor hulle moet by ander stemlokale gaan stem. Dit was frustrerend en van die mense het toe nie gaan stem nie.
By een van die stemlokale was daar ook nie toiletgeriewe vir al die party-agente nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'