GEORGE NUUS -Verteenwoordigers van politieke partye het oor die algemeen die uitspraak van die konstitusionele hof verwelkom dat die plaaslike regeringsverkiesing tussen 27 Oktober en 1 November gehou moet word.
Die konstitusionele hof het verlede Vrydag, 3 September, 'n aansoek van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) afgekeur dat die verkiesing in die lig van die Covid-19 uitgestel moet word. Die aanvanklike plan was wel dat dit op 27 Oktober gehou sou word.
Nadat die uitspraak Vrydag bekend geword het, het dit omtrent 'n geskarrel by sommige partye afgegee om gereed te maak vir die verkiesing.
In die stadium is die presiese verkiesingsdatum nog nie bekend nie, daar behoort teen 20 September meer duidelikheid te wees. Kiesers wat nog nie geregistreer het nie, kry die naweek van 18 en 19 September kans om dit te doen.
In politieke kringe word gespekuleer dat die verkiesing op Maandag 1 November gaan plaasvind. Sou dit gebeur, gee dit politieke partye nog sowat sewe weke tyd om verkiesingsveldtogte te voer.
Wat sê politieke partye?
• Die DA het die besluit verwelkom. Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê die uitspraak gee duidelikheid vir die kiesers dat die verkiesing vanjaar sal plaasvind. Die party het Maandag sy kandidaatlyste in die oostreek bekend gemaak. Die DA is slaggereed.
• Die ANC het by monde van Aseza Gungubele, waarnemende streeksekretaris, gesê die besluit word verwelkom. Die partye bestudeer nog die volledige uitspraak. Die ANC gaan kandidate stel in elke wyk in elke munisipaliteit. "Ons is meer as gereed."
• Richard Hector van GOOD het gesê die party is altyd gereed. "Elke Suid-Afrikaner moet hom/haar onderwerp aan die grondwet. Ons verwelkom die uitspraak."
• Die EFF het ook die uitspraak verwelkom. Mbulelo Magwala, streeksekretaris van die party, het gesê die party sal kandidate stel in al die wyke. Die party het wel aanvanklik gevra dat die verkiesing uitgestel word. Die hof "dwing" nou partye om aan die verkiesing deel te neem. Die party verwelkom dit ook dat registrasie nog kan plaasvind.
• Johan du Toit van die ACDP het gesê die party sou verkies het dat dit uitgestel word, maar berus by die uitspraak. "Ons is nou ten gunste daarvan en dit moet agter die rug gekry word." Die ACDP sal deelneem en is in die proses om sy kandidaatlyste af te handel.
• Virgill Gericke van die PBI het gesê die party is gereed vir die verkiesing. "Die uitspraak is in lyn met die voorleggings wat ons aan die Moseneke-kommissie gemaak het."
• Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van ICOSA, het gesê die party is tevrede met die uitspraak. "Ons is verkiesingsgereed. Almal is in dieselfde bootjie met betrekking tot die pandemie. Mens moet aanpas en mens weet nie wat more gebeur nie. Ons gaan die meeste kandidate ooit in die Wes-Kaap stel."
• Joe Mkhondo van die AIC het gesê die party aanvaar die uitspraak. Die AIC sal deelneem. Hy het dit verwelkom dat nog registassie kan plaasvind. Hy weet van kiesers wat nog nie geregistreer het nie en nou die keer sal kan stem. Dit kan help om 'n regverdige verkiesing te verseker.
• Dr. Cornè Mulder, Wes-Kaapse leier van die VFPlus, het gesê gegewe die feite op die tafel soos Covid-19 en die hof se uitspraak, het die OVK en al die ander partye geen ander keuse as om voort te gaan nie "Die VFPlus is gereed vir die verkiesing. Die VFPlus se beplanning was deurentyd daarop gerig asof die verkiesing op 27 Oktober sou plaasvind."
• Chantelle Kyd, woordvoerder van die Patriotic Alliance in George, het gesê die party verwelkom dit dat die verkiesing voortgaan. Die PA gaan beslis deelneem en sy kandidaatlyste in George is afgehandel.
IN SHORT
In general political parties have welcomend the decision by the Constitutional Court regarding this year’s local government election. The Electoral Commission (EC) applied to the Consitutional Court earlier this year, requesting that the elections be postponed to next year. The court last Friday (3 September) orderd that the local government elections have to take place this year between 27 October and 1 November.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'