Nelia Nieuwoudt het in haar tuin in De Oewer, Heatherpark gestaan toe die twee valke, soos sy dit beskryf het: "Letterlik in my tuin neergeval het." Sy het dit as 'n uitsonderlike gebeurtenis beskryf en aanvanklik aangeneem dis paartyd en hulle het haar tuin daarvoor uitgesoek. Sy het haar kamera gegryp en die ongelooflike toneel verewig.
Die George Herald het by verskeie kenners op die gebied van valke se gedrag gaan aanklop om uit te vind wat werklik gebeur het. Almal was dit eens dat die valke inderdaad nié gepaar het nie, maar dat dit 'n geveg om gebiedsreg tussen twee Sparrow Hawks was. Om dit nog meer uitsonderlik te maak, was dit volgens alle waarskynlikheid 'n geveg tussen 'n mannetjie en 'n kuiken uit eie nes. Die dominerende mannetjie sou outomaties reeds die gebied waar die geveg plaasgevind het, as sy eie jaggebied geëien het en tot die dood toe veg vir sy regte binne dié gebied.
Volgens die kenners waarmee die George Herald gepraat het sal Sparrow Hawks hul kleintjie 'lewenswys' maak deur dit te leer vlieg en jag. Wat dit nog meer interessant maak is die feit dat die klein valkie voor dié geveg om gebiedsreg, heel waarskynlik reeds in 'n ander geveg om lewe en dood was met die valk wat in dieselfde nes uitgebroei het.
"Net een Sparrow Hawk kuiken oorleef die verblyf in die nes waarin dit uitgebroei is. Indien daar twee eiers is sal die dominerende kuiken die minderwaardige doodmaak," was die kenners dit eens.
Op 'n vraag aan die kenners oor wat die laaste opsie vir die mannetjie valk sal wees as die kleintjie nie sy nes en omgewing wil verlaat nie, was die antwoord: "As laaste opsie kán dit gebeur dat hy die kleintjie sal vrekmaak."

Die dominerende valk druk die ander een op die grond vas.
Foto's:Nelia Nieuwoudt