Update
GEORGE NUUS - Ná 'n volledige ondersoek van byna drie jaar sedert die wrede verkragting en moord van Kleinkrantz se Emerencia Roman (19), is 'n verdagte (27) verlede week, Woensdag 31 Augustus, omstreeks 20:08, in hegtenis geneem.
Hy word met DNS-bewyse met die misdaad verbind.
Roman, 'n oudleerder van Hoër Tegniese Skool Eden, se liggaam is Maandagoggend, 9 Desember 2019 omstreeks 06:00, deur 'n verbyganger in bosse in Kleinkrantz gevind.
Sy is laas die vorige Sondagaand by 'n sosiale byeenkoms by 'n huis in die omgewing gesien. Sy het drie steekwonde aan haar nek gehad en was ook wreed verkrag.
Skok in die hof
Ná die verdagte laat Woensdagaand in hegtenis geneem is, het hy Maandagoggend, 5 September, in die George-landdroshof verskyn.
Die saak is egter van die rol geskrap omdat die voorgeskrewe 48 uur waarbinne die verdagte na sy arrestasie voor die hof gebring moes word, volgens die landdros reeds op Vrydag 2 September verstryk het en die verdagte dus langer in aanhouding was as die maksimum voorgeskrewe tyd.
Maar, volgens 'n woord-voerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, was die ondersoekbeampte binne sy reg om die verdagte eers Maandagoggend voor die hof te bring.
"Aangesien die voorgeskrewe 48 uur waarbinne hy [die beskuldigde] voor die hof gebring moes word eers na gewone hofure op Vrydag 2 September verstryk het omdat die beskuldigde laat Woensdagaand in hegtenis geneem is, was dit heeltemal aanvaarbaar om die verdagte op Maandag 5 September in gevolge artikel 50(1)(d)(i) van die Strafproseswet, voor die hof te bring.
"Die landdros was egter van 'n ander siening en het die saak van die hofrol geskrap, wat veroorsaak het dat die beskuldigde uit aanhouding vrygelaat is," sê Ntabazalila.
Vriende en familie, onder leiding van gemeenskapsleier Joanie Visagie Jantjies (middel), het Maandagoggend, 5 September, deelgeneem aan 'n vreedsame optog waartydens hulle die hof vra om nie die verdagte borgtog toe te staan nie. Die oorledene, Emerencia (Emmy) Roman, se ma, Mina (regs van Jantjies) het ook aan die optog deelgeneem. Foto: Kristy Kolberg
Vryheid van korte duur
Die beskuldigde se vryheid was egter van korte duur en hy is kort ná sy vrylating op dieselfde aanklagte, dié van moord en verkragting, in hegtenis geneem. Hy het die volgende dag, Dinsdag 6 September, weer in die hof verskyn waar die saak tot 3 Oktober uitgestel is.
Die beskuldigde het aangedui dat hy nie 'n borgtogaansoek wil bring nie.
Die verdagte se identiteit is bekend aan George Herald, maar omdat hy van 'n seksuele misdryf aangekla word, mag sy identiteit nie bekendgemaak word alvorens hy nie gepleit het nie.
Eric Mtyhobile is vir die staat en die beskuldigde het aansoek gedoen om regshulp.
Wat sê die wet
'n Aangehoudene het die reg om so gou as wat redelikerwys moontlik is, maar nie later as 48 uur ná arrestasie, voor 'n hof gebring te word.
Indien die tydperk van 48 uur buite gewone hofure of op 'n dag wat nie 'n gewone hofdag is nie, verstryk, moet die beskuldigde nie later as die einde van die eerste daaropvolgende hofdag voor 'n hof gebring word nie.
Polisie en nooddienste op die toneel toe Roman se liggaam op Maandag 9 Desember 2019 gevind is.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'