Update
GEORGE NUUS - Die verdagte in vanoggend se wilde jaagtog tussen George en Plettenbergbaai is vanmiddag in die polisie-aanhoudingselle in Plettenbergbaai dood. Die oorledene (39) van Thembalethu is vermoedelik deur ‘n mede-aangehoudene verwurg.
Die oorledene het vanoggend tussen 09:30 en 10:00 ‘n bakkie voor ‘n huis in Mbewustraat, Thembalethu gesteel. Die bakkie het geluier en die eienaar was vlugtig in sy huis toe die voertuig gesteel is.
Die diefstal is by die polisie aangemeld en kort daarna is die voertuig by Fourways in Thembalethu opgemerk. Die polisie het ondersoek ingestel waarna die verdagte met die gesteelde voertuig weggejaag het.
Verskeie voertuie, polisievoertuie asook vier munisipale verkeersvoertuie is in die jaagtog beskadig voordat die verdagte in Plettenbergbaai vasgetrek is.
Lede verbonde aan die openbare orde polisie (Pop) het in Knysna, waar hulle gewerk het, by die jaagtog aangesluit en op die voertuig se bande losgebrand waarna die verdagte met ‘n ander voertuig gebots het. Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem vir diefstal van ‘n motorvoertuig.
George-verkeershoof, Donovan Saptoe, het volgens inligting ook ligte beserings tydens die jaagtog opgedoen toe die verdagte hom naby Sedgefield van die pad af wou druk.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die voorval in Thembalethu bevestig asook die verdagte se inhegtenisname. Hy sê die verdagte het slegs skrape in sy gesig gehad toe hy aangekeer is. Hy wou nie kommentaar lewer oor die voorval in die aanhoudingselle nie en het die George Herald na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), wat die voorval in die selle ondersoek, verwys.
‘n Navraag is aan Opod gestuur en hul kommentaar word verwag.
Lees 'n vorige artikel: High speed car chase ends in ditch
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'