Update
GEORGE NUUS - Die manne in blou het Maandagmiddag, 7 Februarie, hul hande vol gehad toe 'n oproerige skare hulle met klippe op 'n toneel in Reigerpark, Pacaltsdorp, bestook het.
Dit volg ná 'n jongman van dié woonbuurt, Christiaan (Frikkie) Kennedy (23), deur 'n polisiebeampte doodgeskiet is.
Met George Herald se aankoms op die toneel is rubberkoeëls afgevuur om die skare onder beheer te bring. Die polisie se eenheid van openbare orde (Pops) was ook op die toneel.
Volgens 'n betroubare bron was die oorledene 'n verdagte wat gesoek is in verband met huisbrake asook ander ernstige misdrywe. Die polisie was glo besig om gesoekte verdagtes in die gebied op te spoor toe hulle op die verdagte afgekom het.
Kennedy het glo van die polisie probeer vlug en offisiere met 'n kapmes en ander skerp voorwerpe gedreig voor hy gevlug en geskiet is.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die voorval bevestig en gesê dit sal verder deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word. Daar word nog gewag vir kommentaar van Opod.
Die presiese omstandighede rondom die voorval kon nog nie bevestig word nie.
Volgens 'n inwoner van die gebied en 'n vriendin van Kennedy, Devodene Boesak, het die gemeenskap oproerig geraak omdat dit nie nodig was om die verdagte dood te skiet nie.
Sy sê sy het op die toneel tevergeefs probeer om die bloeding te stop.
Polisie op die toneel in Reigerpark Maandagmiddag. Die Openbare Orde Polisie-eenheid (Pops) het ook op die toneel opgedaag om die oproerige skare onder beheer te bring. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'