Die polisie het nog voordat die staat die saak Dinsdagoggend teen Zane Keffers (18) teruggetrek het, een van die staatsgetuies, Rodney Wildeman (28), in hegtenis geneem vir die moorde op drie kleuters van Rosemoor in Junie 2008.
Die kleuters, Adnill Pienaar (5), Hendrolene Koetaan (4) en Jermaine Geduld (3), almal van Bossiegif, is op 19 Junie 2008 wreed met ‘n baksteen doodgeslaan nadat hulle vroeër die dag van hul ouerhuis weggelok is. Hendrolene is verkrag voor sy vermoor is. Al drie se bebloede lykies is later die aand onder bosse in ‘n kloof gevind.
Keffers (toe 16) was sedert sy inhegtenisneming in aanhouding by die Mosselbaai Jeugsentrum. Hy is laat verlede jaar ná sielkundige evaluasie geskik verklaar om verhoor te word en sou teregstaan op ‘n aanklag van verkragting, drie van moord en drie van ontvoering.
Voordat Keffers Maandag gevra is om te pleit is sy pleitverduideliking aan die staat oorhandig. Hierin het hy glo ‘n gedetailleerde beskrywing van die dag se gebeure gegee en ook genoem wie, volgens hom, die kleuters vermoor het.
In sy pleitverduideliking impliseer Keffers vir Wildeman wat onmiddellik ondervra is en glo sekere erkennings gemaak het. Wildeman sou na bewering ook ‘n bekentenis voor ‘n landdros aflê, maar het op die nippertjie daarteen besluit en vir regshulp gevra.
Die George Herald het betroubaar verneem dat dit nie die eerste keer is dat Keffers genoem het dat daar iemand anders daardie dag in die bosse was nie en dat hy nie die kleuters vermoor het nie. Hy het egter nooit enige name genoem nie. Dit is in hierdie stadium onduidelik of dit maar ‘n geval was waar niemand hom geglo het nie, en of die moontlikheid van ‘n tweede verdagte nooit ondersoek is nie.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat al die sake teen Keffers voorlopig teruggetrek is en dat ‘n tweede verdagte aangekeer is.
Wildeman is Dinsdag gearresteer en het gister in die George-hof verskyn op drie klagtes van moord. Die saak is tot môre uitgestel. Pojie sê nog klagtes kan later bygevoeg word. Die moontlikheid dat Keffers weer aangekla kan word, word nie uitgesluit nie.
Artikel: Lizette da Silva


Jermaine Geduld (3) Adnill Pienaar (5) as baba.