GEORGE NUUS - Inwoners van Rosemoor, Le Vallia en dele van Pacaltsdorp het die afgelope paar dae deurgeloop nadat vandale duur toerusting waarmee elektrisiteit voorsien word, sowel as transformators, geplunder en beskadig het.
Volgens een bron het booswigte hul kapbyle met stootwaentjies vervoer en ure spandeer om kabels stukkend te kap in 'n poging om 'n transformator in die omgewing van Olympia-skool te steel.
In Delvillepark was inwoners Dinsdag vir 'n geruime tyd sonder krag terwyl die munisipaliteit moes spook om die kragvoorsieningsdiens te herstel. Foto's van die beskadigde toerusting is gister op sekere kommunikasiegroepe gedeel.
Help vandale vastrek
George-munisipaliteit het die afgelope finansiële jaar miljoene bestee aan die herstel van beskadigde toerusting.
Vandalisme kos nie net die munisipaliteit geld nie, maar ook die belastingbetaler.
Vandalisme kan ook daartoe lei dat gemeenskappe sonder dienste gelaat word.
Rapporteer mense wat peuter, verf, breek of munisipale eiendom steel. Enigeen wat bewus is van 'n voorval, of 'n vandaal op heterdaad betrap, moet munisipale wetstoepassing by 044 801 6300 of 044 801 6300 (na ure) skakel, en dit ook by die polisie aanmeld.
As dit moontlik is om foto's van die skuldiges te neem "in the act" sonder om jouself aan gevaar bloot te stel, sal dit baie help.
Die munisipaliteit rapporteer vandalisme aan die polisie en sake word geopen vir ondersoek.
Beloning
Die munisipaliteit bied ook 'n beloning van R2 500 aan vir inligting wat lei tot suksesvolle vervolging van vandale. Informante se identiteit sal beskerm word en hulle sal nie in die hof hoef te getuig nie. Om vir die beloning in aanmerking te kom, rapporteer die oortreding by 0860 044 044.
Foto's van beskadigde toerusting is op sekere kommunikasiegroepe gedeel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’