Dit was die chaotiese prentjie wat werkers by die Arts Theatre verlede Donderdag-oggend begroet het nadat vandale die plek geplunder het.
Beatrice Esterhuysen, die teaterbestuurder, sê hulle is uiters hartseer dat mense die plek so kon verwoes.
"Dié is ‘n plek vir die hele gemeenskap. Ons inkomste kom van die shows wat ons aanbied, ons kry nie ‘n staatsubsidie nie. Behalwe dat hulle soveel goed gebreek het, het hulle boonop ons rolstoel ook gesteel," sê sy.
Die vermoede is dat die vandale toegang deur ‘n klein venster in een van die aantrekkamers gekry het en hulle op soek was na geld.
Toe hulle egter agterkom dat daar nie geld is nie, het hulle van die wyn wat in die yskas was begin drink en die plek met geweld begin af- en oopbreek.
Beatrice en haar span het onmiddellik nadat die polisie die toneel gefynkam het, begin opruim en die teater weer toeganklik gemaak vir die publiek.
Holy Cross Pre-Primêr het reeds die afgelope naweek hul skoolkonsert daar aangebied en dit was ‘n reuse sukses.
Beatrice het ‘n pleidooi aan die publiek gerig om soveel moontlik van hulle vertonings by te woon, want dis hoe hulle hul geld genereer. "Op dié manier sal ons weer ons teater mooi kan herstel."
Blykbaar het die vandale selfs met een van die mannekyne se rokke op die verhoog gespeel terwyl hulle ‘n boks rooiwyn gedrink het.
Kapt. Zelda Muller, kommunikasie-beampte van die George-polisie, sê die speurtak ondersoek tans die inbraak, maar dat geen verdagtes nog aangekeer is nie.
Persone met inligting oor die voorval kan die speurder kontak by 044 803 4749.
Enigiemand wat ‘n skenking wil maak, kan die Arts Theatre skakel by 044 874 3142.
(1).jpg)
Dié kas in een van die kantore is oopgebreek, maar die diewe kon nie toegang tot die kluis verkry nie.
ARTIKEL EN FOTOS: LIZETTE DA SILVA