Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Johann Lerm, een van George se bekendste inwoners en voorheen 'n suksesvolle afrigter van die SWD Arende, se geestelike boek, Breek die Grendels, is die week amptelik bekendgestel. Dit is 'n uitvloeisel van 'n blog, Geestelike Vitamines wat hy op 'n gereelde basis skryf.
Lerm het aan George Herald vertel hoe almal se lewens op Vrydag 27 Maart 2020 verander het. 'n Nasionale staat van inperking is aangekondig. Maskers, sosiale afstand en inperkingsmaatreëls het mense se lewens totaal verander.
Meer as 'n jaar later is mense steeds ingeperk en Covid-19 is steeds teenwoordig. "Ons voel vasgegrendel in omstandighede, waaraan ons nie gewoond is nie."
Lerm, wat ook predikant en radio-omroeper is, het in die grendeltyd begin skryf aan die boek. "Sedertdien het ek my reis met God aangeteken, ten einde Hom beter te verstaan. Saam met God is verskeie grendels ontsluit."
In sy boek deel hy dit in die vorm van oordenkings om hoop te gee vir die toekoms.
"'n Lewe wat dalk nooit weer dieselfde sal wees nie. Hierdie boek gaan net oor Hom. Om Sy eer, Sy lof en Sy heerlikheid."
In die boek is meer as 70 stories vervat van geloof, hoop en liefde uit die alledaagse gebeurtenisse van mense. Aktuele gebeurte-nisse en geskiedenis word betrek.
Hy beskryf dit as 'n praktiese geloofsreis waar die goedheid, liefde, almag, genade, krag en sorg van die liefdevolle Hemelse Vader deur wonderwerkoomblikke gedemonstreer word. Met die boek wil hy hoop vir mense gee.
"Dis iets wat ons juis nou nodig het."
Kyk 'n video hieronder:
In die boek verwys hy na onder neer Wayde van Niekerk, Justin Bieber, Elvis Blue, Johnny Cash en Novak Djokovic.
Dis sy eerste boek. "Dit was groot en ongelooflike harde werk. Dit was moeilik en die versorging daarvan was 'n groot uitdaging. My uitgewer, Sela, het 'n groot rol gespeel in die daarstelling van die boek," het hy gesê.
Hy sal dit beslis weer doen. "Die saadjie is nou geplant."
Dis moontlik dat die boek later dalk in Engels sal verskyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'