Morton van Rooyen, hoof van Hoërskool George, tree af na 37 jaar in die onderwys. Hy sê dit was 'n moeilike besluit om op hierdie stadium af te tree, maar na hy in Augustus 60 geword het, het hy die besluit geneem.
"Dit was inderdaad nie 'n maklike besluit nie, maar om verskeie redes, hoofsaaklik weens gesondheid, het ek besluit om af te tree. Ek is tans 'n selfonderhoudende priester in die Anglikaanse kerk en sal hoofsaaklik daarmee voortgaan, maar wil eers gaan rus na een van die moeilikste jare van my loopbaan."
Van Rooyen vertel hy is as jong onderwyser sowat 37 jaar gelede aangestel as 'n Bybelkunde religie-onderwyser en het later departementshoof van hierdie vak geword. "In 2012 is ek aangestel as adjunkhoof en op 1 November 2013 het ek begin waarneem as prinsipaal. In 2015 is ek permanent aangestel."
Hy vertel die skool het die afgelope paar jaar feitlik jaarliks toekennings gekry vir uitstekende matriekuitslae vanaf die Wes-Kaapse onderwysdepartment (WKOD).
"Ek het baie goeie herinnerings van pragtige kinders wat soms so bietjie skeef trap, maar ons het nooit groot dissiplinêre probleme soos bendegeweld of messtekery ondervind nie. Groot dank aan uitstekende personeel van 80 onderwys en nie-onderwyspersoneel wat pligsgetrou hul taak verrig het. Aan ouers wil ek sê dat hulle nie moet opgee met hul kinders nie, en aanhou om hulle te motiveer om hoër hoogtes te bereik. Ek wens George High alles van die beste toe vir die toekoms."
Deon Stoffels, een van die adjunkhoofde, gaan tydelik waarneem tot iemand permanent in die pos aangestel word.
Die ouers en onderwysers het Van Rooyen op sy Facebook-blad voorspoed toegewens en 'n paar het hul boodskappe met die koerant gedeel.
William Constable-Alaart: "Dankie vir jou ondersteuning, dankie vir jou omgee en leierskap. Lekker rus. Mooiloop.
Louis Windwaai: "Ek het hom leer ken as iemand wat omgee vir sy medemens. Later was hy my departementshoof en kon ek onder sy leiding en met sy ondersteuning groei in my vakgebied. As hoof het hy my beïndruk met sy oop deur beleid. Iemand met wie ek gemaklik kon praat. Ons kon saam bid en mekaar aanmoedig wanneer daar gesondheidsuitdagings was. Hy en my ander twee kollegas is 'n voorbeeld van mense wat aftree en nog baie goed lyk. Ek wens hom alles van die beste toe en mag die Here se seën altyd op hom en sy gesin rus. Surge et Insta!"
Gideon Crowley:"Hy was 'n besondere mens wat altyd sy personeel en leerders eerste gestel het. 2020 was sy moeilikste jaar met die Covid-19-pandemie. Deur goeie beplanning vanaf sy kantoor het die skool die wa deur die drif getrek. Hy het altyd die ekstra myl geloop. Hy het die personeel toegelaat om met nuwe idees te kom. George High se skoolgemeenskap gun hom 'n welverdiende aftrede. Hy gaan nou voltyds besig wees by die kerk waar hy sal optree as vader van die Anglikaanse kerk. Mag sy pad verder met rose besaai wees."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'