GEORGE NUUS - Op 'n koel wintersoggend is daar min dinge wat 'n mens inspireer om vroeg op te staan.
Jong, spelerige hondjies van Odin (Oudtshoorn Dogs in Need) het wel gesorg vir baie pret tydens 'n onlangse geleentheid vir 'n ontmoeting tussen honde en potensiële eienaars by Clay Cafe verlede Saterdag, 6 Junie.
Tydens die geleentheid het Adelina Coleman en haar vriendin, Jody Reinstorf, Odin verras met sakke vol handgemaakte hondespeelgoed wat deur 'n vlytige groep bejaarde vroue gemaak is.
Lede van Coleman se Senior Kuns- en Kuiergroep kom tweeweekliks bymekaar om allerlei kreatiewe skeppings van afvalmateriaal, wol en ander herwinbare materiaal te maak. Hulle is veral bekend vir die poppies wat aan verdienstelike organisasies en kleuterskole geskenk word.
"Die hondespeelgoed is iets anders wat ons probeer het, dit was groot pret om te maak," het Coleman gesê.
Skenkings van enkelkouse en stukkende klere is op 'n kreatiewe manier hergebruik deur die hondespeelgoedprojek.
Ferdi Coleman (13) speel met die babahondjies.
"Met leë plastiekbottels en kouse maak ons speelgoed wat raas wanneer honde daaraan byt. Die stukkende klere sny ons in stroke en vleg dit tot toue waarmee honde kan speel en toutrek.
"Ou gordynringe is omskep in speelgoed vir katjies, met lappies wat daaraan hang.
"Die projek gee nuwe lewe aan afval-materiaal, bespaar geld en bring plesier vir diere. Ons tannies het dit baie geniet en geleer hoe om ook vir hul kleinkinders te wys hoe om goedkoop speelgoed vir troeteldiere te maak."
Anri Jansen van Rensburg (regs) speel met een van Odin se honde wat beskikbaar is vir aanneming.
Poppieprojek en nuwe planne
Die Senior Kuns- en Kuiergroep doen veel meer as om hondespeelgoed te maak. Volgens Coleman het die groep reeds sowat 200 poppies vir gemeenskapsprojekte vervaardig.
Vyftig poppies, saam met komberse en wintermussies, is aan 'n kleuterskool in Blanco geskenk, terwyl nog 150 poppies einde Junie na Msinga gestuur word. Dié projek word deur personeel van Bergsig-gemeente gekoördineer.
Vir die volgende kwartaal beplan die groep om te help met herstelwerk by Kekkel en Kraai-kleuterskool ná die storms, asook om poppies vir 'n Kersfeesprojek te maak.
Hulle gaan verder leer hoe om herwonne plastieksakke te gebruik om inkopiesakke te vervaardig.
Vir navrae kontak Adelina Coleman by 082 298 0362.
- Saterdag 13 Junie: ontmoet Odin-hondjies by Crazy Pets, Outeniqua Lifestyle Centre (11:00-14:00) en Saterdag 20 Junie by Heather Park Spar-sentrum (11:00-14:00).
Adelina Coleman met van die handgemaakte hondespeelgoed.
Hierdie prinses, Kayla Camacho (3), het in die speelplek saam met die hondjies geklim.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’