GEORGE NUUS - Petro Maritz, waarnemende onderhoof van Van Kervel Skool, is Vrydagaand, 12 Julie, by die onderwystoekenningseremonie vir die Eden en Sentraal Karoo-distrik aangewys as die wenner in die afdeling, leierskap in leerders met spesiale onderwysbehoeftes (LSOB).
"My leuse is, vir elke probleem is daar is 'n oplossing en ek leer dit vir die kinders ook. Ons moet net die oplossing vir die probleem vind," sê Maritz.
Haar eerste werk as onderwyser was by Laerskool Wonderboom van 1996 tot 2005 waarna sy en haar man na Nieu-Seeland verhuis het van 2005 tot 2007.
Nieu-Seeland was egter nie waar hulle hul kinders wou grootmaak nie en keer terug na Suid-Afrika. Van 2008 tot 2012 gee sy skool by Hoërskool Bredasdorp wat haar laaste hoofstroomskool was voor sy by Van Kervel in 2012 aangesluit het.
Maritz het geen formele opleiding ontvang in LSOB-onderrig nie. "Ek is in die diep kant ingegooi en alles wat ek weet het ek by Van Kervel geleer deur middel van kursusse en praktiese ondervinding.
"Dit was 'n geweldige aanpassing. Ek was gewoond om met hoofstroomkinders te werk en LSOB was heeltemal anders.
Aanvanklik het ek in myself getwyfel en gedink ek pas beter by hoofstroom hoërskool seniors, maar toe vind ek my voete en raak vreeslik lief vir die kinders.
"'n LSOB-onderwyser se doel is anders as 'n onderwyser in 'n hoofstroomskool. In hoofstroom is die fokus gewoonlik om kinders akademies voor te berei om ingenieurs, prokureurs of dokters te word.
LSOB-kinders het ander behoeftes, maar terselfdertyd net soveel potensiaal om suksesvol te wees.
"Jou roeping is om die kinders suksesvol te maak binne die ambag wat hulle eendag wil beoefen. Die kinders ervaar baie mislukking in hul lewens en hul selfbeeld is laag.
Ons moet hulle help om die probleem te oorkom en vir hulle te sê: 'Daar is 'n toekoms vir jou.' Mense vergeet dat in die ou dae was daar min beroepe om van te kies, maar vandag is daar duisende waarin die kinders kan presteer."
Maritz sê LSOB-skole het net soveel sukses as hoofstroomskole en somtyds meer.
"Wanneer ons leerders skool voltooi kry sowat 75% van hulle werk. Nie alle kinders is gemaak vir akademiese opleiding nie en ons bemagtig daai kinders om met hul hande te werk en suksesvol te wees."
Maritz se raad vir LSOB-onderwysers is as volg: "LSOB-leerders moet gereeld hoor hulle is goed en hulle moet beloon word wanneer hulle iets goed doen, want hulle ervaar dit nie by die huis nie. Gaan uit jou pad uit om 'n beloningstelsel te hê en vertel hulle hoe goed hulle is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’