GEORGE NUUS - Monique Strydom vertel haar boeiende storie, van byna vier maande as 'n gyselaar in 'n vreemde land, volgende week Woensdag 7 Maart om 19:00 in die NG Kerk op Heroldsbaai.
Strydom en haar voormalige man, Callie, is in nypende omstandighede in 2000 vir 127 dae op die eiland Jolo in die Filippyne, saam met 19 ander toeriste as gyselaars aangehou nadat hulle deur 'n groep moslem-ekstremiste tydens 'n duikvakansie in Maleisië, ontvoer is.
Vir Monique was dit 'n lewensveranderende ervaring. Sy het besluit om positief te bly en lesse uit haar teenspoed te trek.
Met haar terugkeer het sy besluit om haar lewe aan die mense van Suid-Afrika te wy en om Suid-Afrikaners te bedank vir hul ondersteuning en liefde.
Sy het haar openbare betrekkinge- en bemarkingsmaatskappy toegemaak en die Strydom-liefdadigheidstrust gestig.
In 2002 stig sy Matla a Bana ('n stem teen kindermishandeling).
Matla a Bana het intussen gegroei tot 'n nasionale bekroonde liefdadigheid wat elke jaar duisende mishandelde kinders help.
Monique het sedertdien in 'n passievolle motiveringspreker, wat duisende mense se lewens reeds verander het, ontpop.
Sy het ook deur die jare verskeie eerbewyse, plaaslik en internasionaal, ontvang en boeke soos Vrykoop en A lesson in survival, geskryf.
Met haar praatjie wil sy mense inspireer om trauma en uitdagings te oorkom.
Om vrese in die gesig te staar, hulself lief te hê, vergifnis te verstaan en die silwer randjie om elke swart wolk te sien.
Die onderwerp van Monique se praatjie volgende week is 'Life is like a box of chocolates'.
Geen besprekings is nodig nie, almal is welkom en toegang is gratis. Donasies vir Matla a Bana is welkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'