GEORGE NUUS - George gaan 'n nuwe motornommer kry - CAG - want die bestaande CAW-nommers is vinnig besig om op te raak.
Die CAW-registrasie kan slegs tot 99 999 gaan en met die sterk toename in plaaslike voertuigregistrasies is die getal al byna 'vol'. Die voorgestelde CAG sal ook tot 99 999 kan gaan.
Die rede is dat nommerplate net plek vir nege simbole het in die gespesifiseerde lettergrootte. CAW is drie simbole, dan kom 'n spasie, en daarna is plek vir vyf syfers.
Die CA van Kaapstad het net twee simbole en gevolglik is daar plek vir ses syfers, dus vir hoër nommers. Kaapstad kan gaan tot nommer CA 999 999.
In die afgelope twee jaar het die lisensiekantoor in George talle 'dooie nommers' gekontroleer en weer toegeken.
Dit is nommers vir voertuie wat geskrap is, of waarvan die registrasie na ander plekke oorgeplaas is. Sowat 30 000 dooie nommers is op hierdie wyse vir hergebruik vrygestel.
Terwyl daar nou bykans 100 000 voertuie in George is, was daar 'n eeu gelede kwalik 100. Die George Herald het op 7 Maart 1920 berig dat daar al byna 100 motorkarre in George is.
Lynne Thomson, lid van die George Erfenistrust, het in die argief gaan snuffel en in die koerant van 25 Mei 1938 gelees dat CAW 1000 toegeken is. Dit was vir 'n Super-de-Luxe Fordor V-8 Ford sedan wat Amalgamated Motors aan mnr. A Cator van Wilderness verkoop het. Teen Junie 1942 was daar al 1328 motors en in 1981 is die aantal voertuie volgens die George Herald op 2 500 geraam. Deesdae word maklik 150 nuwe voertuie per maand geregistreer, afgesien van oorplasings van voertuie wat in gebruik is.
Intussen is die nommer CAW 99 999 reeds toegeken aan 'n motoris wat hierdie nommer bespreek het.
So 'n uitsoek-nommer van die gewone letters plus syfers kos R600 bo die normale registrasiegeld, terwyl 'n deftige nommer soos CAG 5 die eienaar R6 000 sal kos.
Persoonlike nommers, soos "Stouter WP" kos van R1 750 tot R10 000.
Mense wat kommentaar op die voorgestelde CAG wil lewer, kan dit tot 5 Februarie 2018 rig aan Michael.Gallant@westerncape.gov.za.
As dit goedgekeur word, sal die CAG-nommers stellig eers van die middel van die jaar in werking tree.
Lees 'n verwante artikel: CAG: Additional number plate for George
Berig deur Joh Groenewald, 'n lid van die George-erfenistrust.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'