Só sê Valesca Erlank van George na haar besoek aan Kenia in Augustus.
Valesca Erlank is uitgenooi as ‘n spesiale gas deur die ITF (International Transformation Foundation) in Kenya, ‘n wêreldwye nie-regeringingsorganisasie om die jeug van Nairobi toe te spreek oor jeugleierskap binne Afrika.
"As kind was my passie die welstand van mense en tot op hierdie dag fokus ek meestal daarop. Ek wou nog altyd ‘n goeie band bou tussen verskillende nasies en so ook hulle regerings," sê Valesca.
Haar grootste uitdaging was die boodskappe wat sy moes oordra. Dit sluit in dat daar in Afrika min geleenthede vir die jeug is.
"So dikwels vind ons onsself verlore as gevolg van diskriminasie, haat, rassehaat, verwerping in ‘n oorlog, in ‘n wêreld wat meer kompleks is in die 21ste eeu.
Jongmense word nog steeds nie genoeg verteenwoordiging in gebiede soos die parlement, plaaslike rade, besighede en ook by vrywillige organisasies gebied nie. As gevolg hiervan bou die jeug ‘n stigma rondom hulle en betwyfel dan die ambisies en talente wat God hulle gegee het. Ek is dit eens dat sommige jeug wel buitengewone dinge doen, maar by verre nie genoeg nie," sê sy.
Sy sê ook dat almal nie die geleenthede het om te gaan studeer nie, maar niks stop iemand om ander se potensiaal te verryk nie.
"Ons wêreld streef na nuwe vaardighede, nuwe leierskap en onvoorwaardelike liefde. Vandag is die jong mense meer bewus van probleme wêreldwyd. Dit sluit uitdagings soos oorloë, armoede en selfs die swak ekonomie in," sê sy.
Aan die jeug van die wêreld sê sy, "trek die lyn en wys die publiek die buitengewone werk wat jy doen".
"Merk jou vaardighede, wys jou talent, volhard en jy sal suksesvol wees. Die jeug vra, dat vandag se leiers soos ‘n lig moet skyn op hierdie inspirerende jong leiers wat die vorming van die toekoms van ons lande en ons wêreld inspireer. Gee ons spasie, leiding en hulpbronne."
Valesca het ook kinderhuise en minderbevoorregte skole besoek en gesê Kenia het ongelooflike baie arm gebiede.
Nog ‘n groot voorreg wat haar te beurt geval het, was haar ontmoeting met die adjunk-president van Kenya, mnr. Stephen Kalonzo Musyoka. Hy het haar met ope arms ontvang en sy het ‘n ope gesprek met hom gevoer oor jongmense se toekoms in Afrika.
"Dit is ons die jeug, nie ons die wit of swart Afrika-burger nie, maar ons as ‘n geheel, wat ‘n volmaakte unie moet vorm. En ons moet dit vorm, nie om die seëninge aan die demokrasie te gee nie, maar om dit te beveilig. Afrika is jou huis, jou huis behoort aan die wêreld en die wêreld behoort aan almal."

Die kinders by die ITF-kinderhuis in Kairobangi buite Nairobi luister aandagtig na Valesca Erlank en mnr. Kubwimana Venuste, ‘n ITF-verteenwoordiger, tydens hul besoek.