GEORGE NEWS - Valesca Erlank de Swardt van George het ‘n rits toekennings ontvang by die Wes-Kaapse Mej. Mzantsi Afrika Rolmodel-toekenningsaand wat in die Bloemendal Restaurant buite Durbanville in Kaapstad gehou is.
Sy is nie net aangewys as die tweede prinses van die titelhouer nie, maar het ook die Mzantsi Afrika Rolmodel Debutantetoekenning in die 20- tot 29-jarige kategorie ontvang.
Sy is ook as die wenner van die Mzantsi Afrika Rolmodel Humanistoekenning aangewys in hierdie ouderdomsgroep en is die algehele wenner van die Mzantsi Afrika Rolmodel Humanistoekenning in die Wes-Kaap.
"Ek wil my familie, vriende en borge van Plettenbergbaai regdeur tot in Riversdal bedank. Dit is altyd wonderlik om saam met mense te werk wie se harte oop is.
"Hierdie toekennings mag wel ‘n persoonlike mylpaal wees, maar ek wil hê George moet dit sien as ‘n gemeenskapsprestasie.
"Dit is nooit die ‘ek’ wat tel nie. Dis die ‘ons’," sê Valesca, wat dankbaar is oor die erkenning wat sy ontvang het.
"Van hierdie platform af wil ek my tyd en energie aanwend hier in die gemeenskap waar ek woon deur hulp te verleen in die stryd teen HIV/Vigs, mishandeling van kinders en vroue, verkragtings en armoede."