Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Valentynsdag is nie net vir verliefdes nie. Dit is Maandagoggend, 14 Februarie, bewys toe leerders van George Voorbereidingskool gewys het dat hulle omgee vir senior burgers.
Leerders van die skool het met nie-bederfbare blikkieskos vir Huis JJ Watson by die skool opgedaag.
Van die blikkies is in die vorm van 'n groot hart gepak en kort na 10:00 het die skoolhoof, Lokkie Fourie, van die blikkies namens die skool aan Huis JJ Watson se bestuurder, Okkie Stander en Charlene Barnard, hul boekhouer, oorhandig.
Fourie het vertel dat daar met die Covid-19-situasie gevind is dat die kleintjies vir byna twee jaar regtig van dinge ontneem is en het met Maandag se Valentynsdag iets anders aangepak.
Dit was nie 'n fondsinsameling nie. Vir R10 kon hulle opdaag in rooi, pienk of wit klere. Hulle het ook 'n draairoomys of 'n slush-puppie ontvang en hulle moes ook 'n blikkie nie-bederfbare kos saambring vir die bejaardes. Meer as 840 blikkies is ingesamel.
Volgens Fourie wou hulle die kinders leer om liefde te deel.
"Ons is bevoorreg om deel te kan wees van die George Voorbereidingskool-familie. Familie gee om vir mekaar."
Huis J J Watson is een van die plekke waarheen die skool uitreik. Voor Covid het leerlinge elke kwartaal iets gaan aanbied vir die ouer mense. Soms het die kinders daarheen gegaan en uit 'n boek vir die inwoners voorgelees. Ander kere het hulle weer iets saam met die bejaardes gemaak soos byvoorbeeld handwerk.
Met Covid het dinge egter verander en hulle kon nie meer die terrein betree nie.
Lokkie Fourie, hoof van George Voorbereidingskool oorhandig een van die blikkies aan Okkie Stander, bestuurder van Huis JJ Watson. Foto's: Eugene Gunning
Groot hulp
Stander het gesê hierdie bydrae help op verskillende terreine. Dit help finansieel. "Ons hoef nie daardie kos aan te koop nie. Die geld wat gespaar word, sal ook aangewend word om inwoners langer in die tehuis te laat bly."
Volgens Stander wys dit vir inwoners dat die gemeenskap vir hulle omgee en nie van hulle vergeet het nie.
VIDEO: Valentynsdag is nie net vir verliefdes
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'