PLAASLIKE NUUS - 'n Ultramaraton tussen Mosselbaai en George kan in September volgende jaar 'n werklikheid wees wat 'n welkome ekonomiese inspuiting vir die Tuinroete kan bring.
Dié aankondiging is op Woensdag 15 Julie deur die Tuinroete-distriksburgemeester, Marais Kruger, tydens 'n byeenkoms van die DA se burgemeesterskandidate vir die sewe B-munisipaliteite van die Tuinroete by Oubaai se konferensiesentrum gemaak.
Kruger het 'n gesamentlike onderneming met Mosselbaai se burgemeesterskandidaat, Dirk Kotzé, en George se kandidaat, Browen Johnson, onderteken om die ultramaraton volgende jaar aan te bied.
Kruger, self 'n hardloper, het gesê dit is sy droom dat atlete nie meer na Pietermaritzburg of Durban hoef te reis om aan 'n ultramaraton deel te neem nie.
"So 'n geleentheid in die Tuinroete sal help om gastehuise te vul, die ekonomie te stimuleer en die hele streek se toerisme 'n reusehupstoot te gee," het hy gesê.
Kruger het ook verwys na die langverwagte streekvullisterrein wat deur die distriksmuni-sipaliteit ontwikkel word en gesê dié is nou bykans 'n maand voor skedule.
"Ek hoop om in die nabye toekoms te kan sê dat ons teen die einde van November ons eerste vullis daar kan aflaai."
Die ontwikkeling van die terrein is sedert die aanvang van die werk deur verskeie vertragings gekniehalter.
Die aankondigings het deel gevorm van 'n geleentheid waar die DA se burgemees-terskandidate vir Hessequa (Gerald Boezak), Mosselbaai (Kotzé), George (Johnson), Bitou (Jessica Kamkam), Knysna (Levael Davis), Kannaland (Joslyn Johnson) en Oudtshoorn (Henricus Gysman) hul visie vir die streek en hul onderskeie munisipaliteite gedeel het met die oog op die plaaslike verkiesing van 4 November.
Kruger, wat weer as kandidaat vir Tuinroete-distriksburgemeester staan, het beklemtoon dat die streek as een toerismebestemming bemark moet word.
"Mense kom nie net George toe om in George te wees nie. Hulle wil George toe kom, 'n oester in Knysna eet, dan 'n glasie vonkelwyn in Bitou drink en Mosselbaai se haaihokduik ervaar. Mense moet sê hulle gaan na die Tuinroete, hulle gaan nie na een spesifieke dorp toe nie."
Volgens hom het die afgelope agt maande as burgemeester groot uitdagings ingehou, insluitend die Mosselbaai-brande, bek-en-klouseer, vloede, windstorms en gevalle van xenofobie.
Hy het gesê die streek se rampbestuurafdeling het hulle uitstekend van hul taak gekwyt in die hantering van dié krisisse.
By die byeenkoms was Gerald Boezak, Dirk Kotzé, Browen Johnson, Henricus Gysman, Marais Kruger, Tertuis Simmers (Wes-Kaapse DA-leier), Joslyn Johnson, Isaac Sileku (Wes-Kaapse minister van mobiliteit), Jessica Kamkam en Levael Davis. Foto: Alida de Beer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’