GEORGE NUUS - Ná byna vier jaar is uitspraak in 'n moordsaak wat reeds sedert 2017 aankom op Woensdag 25 Augustus, in die George-streekhof gelewer.
Vier uit die vyf beskuldigdes, wat op die moord van Graham Fielies (37) van New Dawnpark, tereggestaan het, is skuldig bevind aan moord met voorbe-dagte rade. Die ander is onskuldig bevind en vrygelaat.
Johannes Boesak, Ryno Joubert, Hayworth Botha en Daniel Bruiners sal op Maandag 20 September hul lot aanhoor wanneer landdros Emma Moloro hul vonnisse toedien.
Die ander beskuldigde, Adriaan Jantjies, is vrygelaat. En drie ander verdagtes, Nertle Damons, Romano Matolla en Johnathan Williams, wat saam met die ander ook kort na die voorval in hegtenis geneem is, is vrygelaat ná die saak teen hulle vroeër teruggetrek is.
Fielies is Vrydagmiddag, 1 Desember 2017, omstreeks 14:00 deur 'n groep mans in 'n lokval gelei waarna hy aangerand is. Hy het later die aand in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
LEES MEER: Verdagtes steeds in aanhouding
Die moord is glo voorafgegaan deur 'n voorval waartydens een van die verdagtes se vinger met 'n panga afgekap is. Daar is ook sprake dat Fielies en sy aanvallers oor gebiedsreg gestry het.
Die beskuldigdes word deur Winston Jansen van Jansen & Samson Attorneys verteenwoordig en Candice Simon is vir die staat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'