Warning: Graphic content
OUDTSHOORN NUUS - 'n Storie van 'n erg uitgeteerde hond in Oudtshoorn wat Maandag op sosiale media gedeel is, het diereliefhebbers warm onder die kraag gehad. Dit het ook die fokus weer geplaas op hoe belangrik dit is om mense op te voed wanneer dit kom by die versorging van troeteldiere.
Volgens Marlene Mennie, 'n vrywilliger van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), het die organisasie 'n oproep van 'n man van Oudtshoorn af gekry om te sê dat sy hond siek is.
"Ons kon aanvanklik nie mooi agterkom wat fout is met die hond nie, maar toe ek die foto's sien het ek geweet die hond het nie baie tyd oor nie. Ek het van George na Oudtshoorn gejaag en die hond opgelaai."
Volgens Mennie was sy gedruk vir tyd omdat sy kon sien dat die hond moontlik nie die rit oor die pas gaan maak nie.
"My hart was so seer. Dit lyk of hy net eenkant neergesit is om dood te gaan. Daar was nie kos of water naby hom nie. Daar was 'n swerm brommers wat op hom gesit het en daar het maaiers oral by sy oë, mond en neus uitgekom."
Volgens haar was daar nie tyd vir verdere inspeksie nie. Haar grootste prioriteit was om Blacky by 'n veearts te kry.
"Ek het baie vinnig gery. Ek het die verwarmer aangehad, want sy lyfie het koud gebly omdat sy bloeddruk so geval het en omdat daar so min bloed in sy lyf was. Sy tandvleis was spierwit. Hy het later sy mond oopgemaak. Ek het net die heeltyd gehoop ek is betyds vir die veearts."
By dr. Susi Kok van Eden Small Animal Hospital aangekom is die hond onmiddellik op drup gesit en het hy ook 'n bloedoortapping gekry. Daarna het hulle hom met spirits af- gevee om die maaiers van sy lyf af te verwyder.
"Die hond is ook met bosluisbytkoors gediagnoseer. Dié hond was in alle waarskynlikheid vir 'n geruime tyd siek. Die tipe agteruitgang is nie iets wat oornag gebeur nie."
Blacky voor Marlene Mennie hom veearts toe geneem het.
Sy sê Blacky se tandvleis het amper onmiddellik pienk geword en kort daarna het hy selfs bietjie geëet.
"Die herstelpad is egter nog lank. Ons weet nie hoe lank hy siek was nie, ons weet nie watter effek die siekte op sy lyf gehad het nie. Honde wat vir lank siek was kan maklik 'n terugslag beleef. Ons kan hom ook nie te veel te vinnig voer nie, omdat sy lyf nie nou daaraan gewoond is nie. Hierdie is 'n lang, stadige herstelproses."
Die hond is glo ook te uitgeteer om op hierdie stadium die presiese ouderdom en ras van die hond vas te stel. Minnie glo egter dat die hond onder een jaar oud is.
Sy sê hierdie ervaring moet as leerskool vir troeteldiereienaars dien.
"Blacky is nog nooit teen enigiets ingeënt nie. Inentings is so belangrik en kan die eienaar op die langtermyn baie geld spaar omdat die waarskynlikheid groter is dat hulle nie gaan siek word nie. Blacky is ook nie teen bosluise of wurms behandel nie. As dié behandelings vir jou te duur is, moenie 'n hond of 'n ander troeteldier kry nie. As die troeteldier regtig siek word gaan die veeartsonkostes ook vir jou te duur wees."
Volgens haar gaan Colleen Smith, stigter van Odin, waarskynlik die week 'n klag by die polisiestasie indien.
"Geen hond hoef so te ly nie. Dit is wreed. Daar is so baie mense of organisasies wat beskikbaar is wat kan help. As ons net vroeër van die hond geweet het kon sy herstel soveel makliker gewees het en sou hy nooit so gely het nie."
Blacky op pad na die veearts in George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’