GEORGE NUUS - Brian du Preez, 'n 2011-matrikulant van Glenwood House en tans 'n PhD-student aan die Kaapstadse Universiteit, was die afgelope ruk in die nuus nadat hy op 'n plantspesie afgekom het wat as uitgesterf beskou is en meer as 200 jaar laas gesien is.
"Psoralea cataracta is 'n tipe fonteinbos met klein wit en ligpers blommetjies aan die einde van lang, garingagtige blomstele. Dit was 'n gevoel van absolute vreugde - soos toe ons die Wêreldbeker gewen het. Ek het die plant onmiddellik herken," het Du Preez aan die George Herald gesê.
"Die vonds is belangrik omdat dit beteken daar kan nou verder navorsing op die plant gedoen word. In die groter prentjie wys dit vir ons hoe min ons steeds van ons berge ken en dat daar nog baie skatkiste buite wag om gevind te word, en daarom moet ons die natuur bewaar."
Die SA Nasionale Instituut vir Biodiversiteit beoog om moontlik reeds komende naweek vir nog populasies in die omgewing te gaan soek waar hy die plante gevind het. "Hulle sal dan die spesie se bewaringstatus na krities bedreig of bedreig verander, afhangende van wat hulle vind," sê Du Preez.
Hy skat dat daar 'n paar honderd van die plante was in die populasies wat hy gevind het. Die spesie is amptelik in 2008 op Suid-Afrika se Rooi Data-lys as uitgesterf verklaar.
Die fyn blommetjies van die Psoralea cataracta.
Du Preez het op die rare fonteinbos afgekom terwyl hy in die Winterhoekberge in die Tulbagh-omgewing aan die soek was vir die Indigofera-spesies. Hy doen 'n taksonomiese hersiening van die genus Indigofera in die Groter Kaapse Flora-gebied vir sy PhD.
Hy spesialiseer in die peulplantfamilie (Fabaceae) van die Groter Kaapse Floristiese Ryk en het die afgelope paar jaar al meer as 300 verskillende spesies in dié familie gevind.
Hy vermoed die Psoralea cataracta is so lank laas gesien omdat die meeste soektogte waarskynlik op die verkeerde plekke gedoen is.
"Maar, die blomme is baie klein en fyn, so mens het seker 'n skerp oog nodig om dit raak te sien. Hierdie plante sal ook net vir die eerste paar jaar na 'n brand uit wees voor hulle doodgaan en wag tot die volgende vuur wanneer hulle saad weer ontkiem."
Hy sê hy spesialiseer in die peulplantfamilie weens die diversiteit daarvan - dis die derde grootse in die fynbosbioom. "Dis ook mooi plante en daar moet nog baie navorsing op hulle gedoen word. My eerste nuwe spesie wat ek ontdek het, in 2013, was in die genus Aspalathus."
In 2016 het hy nog twee spesies herontdek nadat hulle ook as uitgesterf beskou was - die Polhillia ignota wat laas in 1928 opgemerk is, en Aspalathus cordicarpa wat in die 1950's laas gesien is.
Du Preez spandeer geweldig baie tyd in die veld. "Op die oomblik kan dit tot drie weke per maand wees aangesien ek soveel spesies het om te soek en dit nou die beste blomtyd vir baie van hulle is. Anders probeer ek darem om altyd 'n paar dae per maand in die veld wees, al is daar nie veel in blom nie."
Volgens sy ma, Trudie het die gesin die Kruger-wildtuin gereeld besoek toe die kinders klein was omdat hulle daar naby gewoon het. Sy sê Brian was van kleins af passievol oor die natuur. Hy het as leerder by Glenwood verskeie bewaringsprojekte aangepak. Hy het onder meer 'n vleiland geskep en talle bome en plante geplant. "Brian het 'n herwinningsprogram by die skool begin deur fynbosplante uit sy eie sak te koop en dit teen 'n wins aan medeskoliere te verkoop. Die profyt het hy gebruik om 'n omgewingsklubfonds mee te begin. Ek noem hom 'n natuurfreak."
Die plant het garingagtige blomstele.
Hy is in 2011 deur die George-munisipaliteit en sy skool gekies om die stad te verteenwoordig by die Conference of Parties 17 (COP17) konferensie oor klimaatsverandering in Durban.
Du Preez het sy voorgraadse studies aan die NMU George voltooi voordat hy sy honneurs en M-graad in plantkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en vir sy PhD aan die UK ingeskryf het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'