GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ’n Sewe-en-dertigjarige vrou is in die linker helfte van haar lyf gedeeltelik verlam ná haar kêrel (36) haar na bewering verkrag en aangerand het.
Die slagoffer en verdagte was na wat verneem word in ’n verhouding en het saam gewoon ten tye van die voorval.
Volgens sers. Lauriane Botha, woordvoerder vir die Groot-Brakrivier-polisie, het die voorval op Sondag 12 Oktober in die Jonkersberg-omgewing plaasgevind.
Botha sê die verdagte het glo by die huis aangekom en die slagoffer daarvan beskuldig dat sy hom verneuk het, wat sy glo ontken het.
’n Argument het glo ontstaan, waarna hy haar na bewering met water natgemaak het, met oop kragkabels waaraan ’n gloeilamp gekoppel is geskok het, haar verkrag het en met ’n besem aangerand het.
Die slagoffer beweer ook hy wou haar ophang en doodmaak.
Volgens Botha word die slagoffer glo al jare lank deur die verdagte mishandel.
Botha sê die slagoffer se ma het die volgende dag op haar afgekom ná die verdagte glo werk toe is. Sy is in die George-hospitaal opgeneem en is vroeër vandeesweek weer ontslaan. Die presiese omvang van haar beserings is nog nie bekend nie. Dit is in hierdie stadium ook nie bekend of haar verlamming permanent of tydelik is nie.
Botha sê die polisie het Vrydag 17 Oktober inligting oor die voorval ontvang en het die verdagte dieselfde dag nog gearresteer.
Die saak word deur AO Soretha van Zyl van Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.
Die verdagte het Maandag 20 Oktober in die Mosselbaai-landdroshof verskyn, waarna die saak na Groot-Brak se landdroshof geskuif is. Hiér het hy Dinsdag sy tweede verskyning gemaak. Hy staan tans tereg op aanklagte van poging tot moord, verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Nog aanklagte kan moontlik bygevoeg word.
Ná die verdagte aangedui het hy wil vir regshulp aansoek doen, is sy saak na 4 November uitgestel vir sy borgaansoek om plaas te vind. Hy bly in aanhouding.
*Omdat een van die aanklagte van ’n seksuele aard is, mag die verdagte se identiteit nie bekendgemaak word tot hy pleit nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’