GEORGE NUUS - Die Demokratiese Alliansie (DA) in George bevind hulle tans in ‘n netelige posisie nadat een van hul raadslede, Marchell Kleynhans, vanmiddag sy bedanking ingedien het.
Kleynhans, ‘n burgemeesterskomiteelid vir siviele dienste en wyksraadslid vir wyk 27, het sy bedanking bevestig en gesê dat hy later ‘n verklaring sal uitreik.
Die amptelike rede vir sy bedanking is nog nie bekend gemaak nie, maar bronne meen dat hy moontlik by die Patriotic Alliance (PA) gaan aansluit.
Sy uittrede beteken dat die DA nie meer ‘n meerderheidsstem in die George-stadsraad het nie.
Die party het 28 stemme nodig vir ‘n meerderheid, maar beskik nou oor 26 raadslede, plus een stem van hul koalisievenoot, die ACDP.
‘n Tussenverkiesing sal binnekort vir wyk 27 afgekondig word.
Intussen is daar reeds spekulasie dat die posisie van burgemeester Jackie van Brandis moontlik in gedrang is, aangesien die DA sonder ‘n meerderheid ‘n mosie van wantroue nie maklik sal kan afweer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’