GEORGE NUUS - SA for Hope, die niewinsgewende organisasie, wat met hulpprojekte uitreik na landelike gemeenskappe, beplan hul volgende groot uitreik op 8 November na Van Wyksdorp in die hart van die Karoo.
Die fokus sal wees op boere, plaaswerkers en hul gesinne asook op die plaaslike jeug.
Direkteur Pieter du Plessis sê hulle wil op 'n praktiese en tasbare manier hoop bring, of dit is deur 'n kospakkie, veevoer of beleggings in die jeug en die natuur. "Ons wil hê mense moet weet hulle is nie alleen nie."
Die uitreik na Van Wyksdorp sluit verskeie inisiatiewe in:
• Kospakkies en veevoer vir boere en hul gesinne om oorlewing te help verseker.
• Bederfboksies, skoon water en vars groente vir 30 gesinne in nood.
• Die plaaslike skool ontvang 160 skool-bederfboksies met skryfbehoeftes en eetbederfies vir elke kind.
• 'n Samewerkingsprojek met Jobs 4 Carbon, 'n organisasie wat omgewingsherstel bevorder en jeugkampe aanbied waar jongmense leer om hoop te bou deur natuurbewaring.
Ook Laerskool George-Suid neem deel onder leiding van Hein Marais wie se omgee en toewyding sy leerders inspireer om reeds van kleins af 'n verskil te maak.
SA for Hope nooi die publiek om betrokke te raak deur finansiële bydraes, donasies of persoonlike deelname aan die uitreike.
Kontak Pieter du Plessis by 076 844 6435.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’